
Leerders van Bergsig Primêr tydens ‘n onlangse besoek aan die Oudtshoorn Diereskut. Foto: Ilze-Mari Gründling
Deur Liesel le Roux
DIE GARDEN ROUTE DBV gaan waarskynlik vanaf 1 Oktober die Oudtshoorn Diereskut se bestuur oorneem nadat hulle suksesvol vir die bestuur daarvan getender het.
Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het vroeër vanjaar ’n advertensie geplaas waarin gevra is vir tenders vir die bestuur van die skut. Na verneem word, was die Garden Route DBV se tender die enigste wat ontvang is.
Die tak op Oudtshoorn sal bekend staan as die Garden Route DBV Oudtshoorn.
Die Garden Route DBV bestaan tans uit die George-tak en die Mosselbaai-tak.
Volgens Frieda Jansen van Rensburg, bestuurder van die Garden Route DBV, is daar tydens ’n vergadering met die Oudtshoorn Munisipaliteit besluit dat hulle beheer op 1 Oktober oorneem, nadat die ooreenkoms tussen die partye onderteken is.
“Hoewel Oudtshoorn ’n tak van die Garden Route DBV sal wees, sal dit afsonderlik bestuur word,” het sy gesê.
Die DBV was tot in 2013 jare lank in beheer van die Oudtshoorn Diereskut, maar het hul deure op 5 April 2013 gesluit nadat al die plaaslike werknemers asook die voorsitter van die DBV-komitee, Michelle Wolmarans, binne ’n tydperk van 48 uur bedank het.
In daardie stadium is finansiële druk en ander werksaanbiedinge as van die redes daarvoor verskaf.
Jansen van Rensburg sê dit is belangrik dat die Oudtshoorn DBV se personeel net so goed opgelei moet wees soos by die ander takke.
“Ons sal onderhoude voer met almal wat daar werk. Mense uit die gemeenskap sal ook die kans kry om aansoek te doen vir werk. Ons wil graag mense uit die gemeenskap oplei. Dit is belangrik dat die personeel diere se belange eerste stel.”
Mynie Mynhardt, bestuurder van die Mosselbaai-tak, sal aanvanklik die leiding op Oudtshoorn neem.
Jansen van Rensburg sê dit is belangrik dat mense moet besef die DBV word deur wetgewing beheer en dat die organisasie vasgestelde reëls en beleide het waaraan voldoen moet word en waarbinne die diereskut bestuur sal moet word.
“Ons glo dat die publiek ons sal ondersteun en ’n pad saam met ons sal stap.”
• Advertensies vir twee poste by die DBV se voorgenome Oudtshoorn-tak verskyn op bladsy 10 van Die Hoorn.