
Die storie van die Chinchilla kat, Bella wat verlede Woensdag weggeraak het in Buitekantstraat, het baie Oudtshoorniete aangeraak. Bella is Vrydag met haar gesin, die Byleveld’s herenig.
Die Hoorn het met Cindy Byleveld gesels.
“Ons het Vrydag ’n wenk gekry dat Bella naby die lughawe gesien is, en dadelik in die kar gespring en soontoe gery,” vertel sy.
Daar het hulle 45 min lank geroep en gesoek en op en af geloop, maar haar nie gekry nie.
Terug by die huis het Cindy en haar dogter gestaan en gesels toe Charne skielik sê “Bella”.
Toe Cindy omdraai staan hul geliefde kat in die gang. “Ek het haar dadelik gegryp en geliefkoos, maar sy was ongemaklik en kwaai, wat ons laat besef het iets is fout, omdat sy ’n baie liefdevolle en vriendelike kat is,”
Hulle het haar veearts toe geneem wat met die eerste ondersoek vir hul pynmedikasie gegee het. Weens haar dik pels is die sny nie opgemerk nie.
Terug by die huis het Bella geëet en water gedrink asof sy weke laas kos gehad het. “Sy verorber steeds haar kos,” lag Cindy.
Later die aand het ons opgemerk dat dit lyk of sy sukkel om op en af van die meubels te klim, en dat daar ’n kol op haar maag is wat ’n ander kleur is, amper soos ’n geel blaar.
Dis toe dat die diep sny ontdek is.
“Ons het dadelik weer die veearts gebel en na hom toe gejaag waar Bella ’n noodoperasie moes ondergaan,” sê Cindy.
Die vermoede is dat Bella moontlik oor ’n palissade heining wou spring, en dalk vasgehaak het en gehang het aan die heining, wat die diep sny veroorsaak het.
“Dit was baie diep, maar ons is gelukkig dat dit nie haar maag oopgesny het nie,”
Glen Carlisle het die wond lekker skoongemaak en toegewerk, en vir haar medikasie gegee.
Sy is op bedrus en onder huisarres, tot sy beter voel.
“Ons is net so bly en dankbaar dat ons Prinses veilig terug is, en die ondersteuning van die gemeenskap was ongelooflik gewees,”
Sy vertel verder dat al die boodskappe, persone wat gesoek en bemoedig het hulle regtig so baie gehelp het en hulle elke liewe persoon waardeer wat hul tyd afgestaan het om na Bella te soek.
“Mense keer ons oral voor om te vra hoe dit met haar gaan, sy is baie gewild, miskien moet ons vir haar, haar eie Instagram-rekening skep,” lag Cindy.
“Dankie aan elke persoon wat gehelp soek het en vir julle ondersteuning.”