Ek bly so 4,6 km van die werk af en ken nou al die gewoontes van baie van die mense wat ek soggens raaksien en ek herken die meeste van hulle aan hul honde.
Die man met die Boerboel, die jong meisie met haar vier worshonde en ’n ander vrou met haar twee.
Ek weet waar ek die twee labradors gaan kry en waar is die man wat so vinnig stap?
Ek weet ook waar ek die twee bejaarde tannies gaan kry waar hulle stap en rustig die omgewing verken, op hul tyd.
Vanoggend kry ek hulle twee staan by ’n roosboom op die sypaadjie, diep in gesprek terwyl eers die een, en toe die ander een aan ’n wit roos ruik.
Terwyl die stad rondom hul ontwaak…..
Mens sê so gereeld: stop en ruik die rose en daarom was hierdie vir my so spesiaal.
“Stop, en ruik die rose”
Moet nooit so leef dat jy nie die mooi raaksien en waardeer nie, skoonheid is om ons, die honde, die tannies, die rose, die wolke, mooi geboue, mooi motors, mooi herinneringe en gedagtes, leef voluit en waardeer elke iets wat mooi is.
En wees self ook ’n mooi mens.
– Pierre Jordaan (Facebook)