Dr Hilldidge Beer met een van die katjies wat verlede week gesteri-liseer is. Foto verskaf

Rudi Wagenaar van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) sit hand by met een van die honde wat gesteriliseer is. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
TWEE dierewelsynorganisasies van Oudts-hoorn het sommer vroeg in die jaar aan die werk gespring en verlede week 47 honde en katte van Oudtshoorn en Calitzdorp gesteriliseer.
Die Animal Care Team (ACT) en Oudtshoorn Volunteers vir Diere het hul eerste Spay-a-Thon vir 2018 aangebied en saam met Magda Davel van die Diereskut en dr Karlien Botha van die Staatsveeartskantoor die diere geïdentifiseer.
“Na ons suksesvolle sterilisasie van 110 diere met ons eerste Spay-a-Thon in Mei verlede jaar is ons vasberade om voort te gaan en fondse in te samel om soveel diere moontlik van laekoste-huishoudings wat regtig nie privaat veeartse kan bekostig nie, te steriliseer,” sê Vanessa Engelbrecht, voorsitter van ACT.
Die groep hoop om vanjaar nog fondse in te samel vir nog drie sterilisasieklinieke. Ten spyte daarvan dat dr Hilldidge Beer en Hilda Mills van die Ebervet Petcare Groep teen ’n minimale koste met die klinieke help, kos ’n kliniek waartydens 50 diere gesteriliseer kan word steeds ten minste R25 000.
Honde en katte van vier dierewelsynorganisasies is by ACT se eerste sterilisasiekliniek van 2018 betrek – 12 van ACT, 13 van Oudtshoorn Volunteers vir Diere, 13 van die Oudtshoorn Diereskut en Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) en 9 van die Friends for Animals Calitzdorp. Volgens Engelbrecht sluit dit 36 honde en 11 katte in, met die meeste van die katte wildekatte wat deur Oudtshoorn Volunteers vir Diere gevang en gesteriliseer word.
• ACT het die gemeenskap van Oudtshoorn bedank vir hul steun en donasies wat bydra tot die sterilisasies, asook vir Alet Coetzer, Marianne Spies en hul span dierevriende vir hul verskeie fondsinsamelings verlede jaar, Owls Den vir die vee- artsenyspan se verblyf, Safari Volstruisplaas vir hul etes, dr Glen Carlisle vir voorraad en al die vrywilligers en hul gesinne wat help.