Potlood en papier bring bevryding vir Cedric

Cedric Africa met sy boek. Foto: Stefan Skapie Goosen

’n Potlood en papier het vir Cedric Afrika (50) bevryding gebring in die tyd wat hy ’n gevangene was en van die “verdoemenis” wat daarmee gepaardgaan. Met sy vrylating het hy dié skrywes in sy tronksel gebruik om ’n boek, Kinders van die Hoorn, die lig te laat sien.

Cedric is in 2016 op Oudtshoorn skuldig bevind aan bedrog waarvoor hy 15 jaar tronkstraf gekry het. “Toe ek gevonnis is, het dit gevoel my lewe kom tot stilstand, asof ek nooit weer die son gaan sien nie. Dit is maar ’n teer saak, maar as iemand my vra, dan praat ek daaroor – ek het immers vir my sondes betaal,” sê hy.

Hy is verlede jaar nadat hy suksesvol teen sy vonnis geappelleer het en op grond van die “Covid-afslag” voorwaardelik op parool vrygelaat.

Hy het reeds aan die begin van sy vonnis begin om sy storie met veral die jeug te deel.

“Twee weke nadat ek gevonnis is, is ek Boland toe gestuur, en het ek vir myself gesê dat ek nie gaan toelaat dat enige negatiwiteit my beïnvloed nie. Nadat ek die vibe van die tronk bekyk het, het ek besluit dat ek myself uit die moeilikheid moet hou en kortverhale begin skryf,” vertel hy.

Cedric sê hy het, soos hy dit noem, lokasiestories begin skryf oor armoede, geweld, en dwelmmisbruik – spesifiek onder die jeug. “Die tik-epidemie, byvoorbeeld, het ’n groot impak op vandag se jeug,” vertel hy. Sy grootwordjare in die 70’s, in Atlantis in die Kaap, het ook gedien as inspirasie vir sommige van sy verhale.

Cedric sê in die tronk was daar baie versoekings om weer die pad byster te raak, maar sy vrou Sheroma het hom altyd bemoedig. “Ek het ook programme in die gevangenis gevolg wat my gehelp en en op die regte pad gehou het,” sê hy.

In 2017 is hy terug oorgeplaas na Oudtshoorn, sy tuisdorp. Dit is hier waar hy toegewyd begin skryf het, vertel Cedric. “Dit was veral ’n besoek van ’n drug action campaign, en ’n opmerking wat daartydens gemaak is, wat my diep ge­raak het – die gemeenskap is stukkend.”

Volgens Cedric het hy toe reeds aan Kinders van die Hoorn begin skryf, maar Oudtshoorn en sy gemeenskap se probleme was toe nog nie die milieu waarteen dit afgespeel het nie. “Toe begin ek oorskryf. Ek het hom twee keer oorgeskryf. Dit het my ’n jaar en twee maande met potlood en uitveër gevat, en ek het nou nog die eelte aan my vingers,” skerts hy. Hy het mense in Korrektiewe Dienste ook bedank vir hul hulp met die skryfproses.

In ’n stadium in die skryfproses het hy tot insig gekom oor die foute wat hy in sy lewe gemaak het en hoekom hy tronk toe is. Dit is met die skryfproses dat sy rehabilitasie begin het.

Nadat hy op parool vrygelaat is, het Cedric met die hulp van sy seun en dogter, Warren en Sadé, begin tik. “My familie ondersteun my en deel my drome, en was saam met my opgewonde toe twee van my stories, Bloedgeld vervolgverhale en Met liefde vir mamma in die Kaapse Son geplaas is. Ek wil nooit ophou nuwe stories skryf nie,” sê hy geesdriftig.

Met die finale manuskrip voltooi het hy met ’n “Google search” eerste op Malherbe Uitgewers afgekom. “Ek het my manuskrip vir hulle gestuur en dit is aanvaar. Ek moet myself soms vandag nog knyp om seker te maak dit is waar,” sê hy.

Kinders van die Hoorn handel volgens Cedric oor die verwerping van die jeug, “en ek glo mense moet dit lees om te kan verstaan. Dit neem jou ast ’ ware op ’n journey deur die lokasie. Ek het met kinders van Oudtshoorn se Bloudeure, die ou lokasie, tot by Riemvasmaak gesels daarvoor. Ek glo die boek kan ’n film word.”

Sedert die publikasie van die boek was Cedric al op menige radiostasies en in koerante. Sy boek is beskikbaar op Amazon, in boekwinkels en by homself. Kontak hom by 083 343 1579. (Deur Stefan Skapie Goosen)