DIE aansoek van ’n voormalige balju van Oudtshoorn om teen sy vonnis van 36 jaar te mag appelleer is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof van die hand gewys.
Abraine Coerecius (42) wat hom as ’n prokureur voorgedoen het, het huise en erwe wat hy nie besit het nie, aan mense verkoop.
Hy is skuldig bevind op ses klagtes van bedrog, een van geldwassery en dat hy hom as prokureur voorgedoen het.
Hy is tot altesaam 44 jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan agt jaar samelopend met van die ander vonnisse uitgedien kan word vir ’n effektiewe tronkstraf van 36 jaar.
Sy broer, Anthony Coerecius (43), wat saam met hom aangekla is, is deur die hof vrygespreek.
Abraine Coerecius se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het in die aansoek om verlof tot appèl die hof meegedeel dat Coerecius van mening is dat die hof die belange van die klaers en die gemeenskap oorbeklemtoon het ten opsigte van die vonnis. Die applikant het ook skuldig gepleit.
Coerecius het erwe op Knysna en Plettenbergbaai aan Benjamin Vrey van Oudtshoorn vir meer as R440 000 verkoop asook ’n huis van R160 000 aan Louis Booysen en ’n erf met die belofte om ’n huis daarop te bou aan Lawak Abrahams vir R160 000. Hulle het die erwe nooit ontvang nie.
Die klaers het ook nie ’n sent van hul geld teruggekry nie en die hof vir die swaarste vonnis vir bedrog gevra.
Coerecius het aanvanklik net skuldig gepleit op die klagtes dat hy hom as prokureur voorgedoen het en aan geldwassery deur geld in sy broer se rekening in te betaal. Hy het teen die einde van die verhoor ook skuldig gepleit op die ses klagtes van bedrog en is so skuldig bevind.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dit is skokkend dat Coerecius groot bedrae aan drank en die onthaal van vriende bestee het en geen berou toon nie.
Sy het met die weiering van die aansoek gesê dat die hof reeds toegewings gemaak en gelas het dat van die vonnisse samelopend uitgedien kan word.
Volgens haar is sy van mening dat geen ander hof op ’n ligter vonnis sal beslis nie.
Familielede van Coerecius het na die hof se beslissing gesê dat hulle hul nou tot die Kaapse Hooggeregshof sal wend vir verlof om teen die vonnis te mag appelleer. (Deur Garnett Wicomb)