Uitnodiging na biddag vir reën

’N BIDDAG vir reën gaan op Dinsdag, 23 Maart, om 11:00 in die ouditorium van die Oudtshoorn Burgersentrum gehou word te midde van die knellende droogte in die Oudtshoorn-distrik en die Klein Karoo wat nou al in sy sesde jaar is.

Dr Isak Burger, president van die AGS Kerk, is die spreker by die biddag.

Almal word genooi om die biddag by te woon, het Laubscher ­Coetzee, streeksverteenwoordiger van Agri Klein Karoo by Agri Wes-Kaap, gesê. “Die biddag is gereël nadat ’n behoefte aan ’n biddag vir reën in die landbougemeenskap van die Klein Karoo waargeneem is.

“Die Klein Karoo gaan gebuk onder ’n kritieke droogte wat nou al in sy sesde jaar is. Daar is nie net kommer oor landbouprodusente se finansiële situasie nie, maar ook oor hul geestelike en sielkundige welsyn.
“Moenie dat ons hierdie geleentheid laat verbygaan nie om deel te wees van ’n belangrike gebeurtenis nie,” het hy gesê.

Volgens Coetzee is daar vroeër meer gereeld biddae vir reën gehou gedurende droogtes. Dit is asof daar nie meer deesdae genoeg geestelike leiding in dié opsig is nie. “Ons bevind ons in ’n enorme krisis,” het hy bygevoeg.