Kry jou kinders aan die skryf

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale  lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur  middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle ver­staan –  word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale
lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur
middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle ver­staan –
word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

As ouers weet ons geletterdheid is belangrik. En daarom lees al meer van ons gereeld vir ons kinders. Maar daar is nog iets wat deel is van geletterdheid, en dit is skryf.

Ons skryf nie net om eksamens deur te kom of ’n werk te kry nie. Skryf is iets wat ons elke dag op verskillende maniere gebruik om dinge gedoen te kry en met mekaar te kommunikeer.

Skryf is soos baie soorte handwerk − hoe meer jy dit doen, hoe beter word jy daarmee, en daarom word dit vir jou al makliker!
As ouers en versorgers het ons ’n spesiale rol om te speel om ons kinders se skryfwerk te ontwikkel. Dit is nie ons taak om ons kinders te leer skryf nie. Ons taak is om hulle aan te moedig om elke dag soveel moontlik te skryf. Hier is verskillende maniere waarop jy dit kan doen.

• Maak seker jy het ’n voorraad papier, kryte, penne en potlode by die huis. Bêre hulle op ’n plek waar jou kinders dit maklik self kan bykom sodat hulle kan teken en skryf wanneer hulle lus voel.

• Om te teken is dikwels kinders se eerste stap vir skryf. Toon belangstelling in hul tekeninge deur bemoedigende opmerkings te maak en vra hulle uit oor hul prente, byvoorbeeld: “Dit lyk na ’n interessante huis om in te woon. Wie woon daar?”

• Gee jou kinders geleenthede om hulle lewens te organiseer deur te skryf. Laat hulle byvoorbeeld lyste uitskryf – ’n inkopielys, ’n lys van die dinge wat hulle die volgende dag moet skool toe neem, ’n gastelys vir ’n verjaardag­partytjie.
Moet jou nie oor die spelling bekommer nie. ’n Mens leer reg spel deur baie te skryf. As jy iets op die lys nie kan lees nie, vra hulle om dit vir jou te lees!

• Skep geleenthede vir jou kinders om met ander te kommunikeer deur te skryf. Laat hulle hul name op groete­kaartjies skryf, dankiekaartjies skryf, boodskappe vir gesinslede by die huis skryf en e-posboodskappe of briewe aan vriende en familie skryf wat verder weg woon.

• Moedig jou kinders aan om dagboeke te hou waarin hulle oor enigiets waarvan hulle hou kan skryf: hul gevoelens, dinge wat by die huis of skool gebeur het en/of dinge wat hulle wil onthou.

Respekteer jou kinders se privaatheid en lees hulle dagboeke slegs met hulle toestemming.
Vir meer wenke en idees om kinders aan te moedig om te skryf, gaan na www.nalibali.org of www. nalibali.mobi

Nalibali Maart 2018