Help jou kinders om lesers te word

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale
lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle ver­staan –
word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

As ouers doen ons alles wat ons kan om ons kinders aan te moedig om te lees. Maar soms, sonder dat ons dit besef, doen ons dinge wat keer dat ons kinders lesers word. Hier volg van die dinge wat ons soms doen wat ons kinders ontmoedig om te lees, sonder dat ons dit besef, en ook ’n paar voorstelle van wat ons eerder behoort te doen!

1. Geen boeke by die huis nie
Kinders moet met boeke omring wees as ons wil hê hulle moet leer lees. ’n Mens kan nie sonder boeke leer lees nie! Hoe meer boeke daar by die huis is, hoe makliker sal hulle boeke vind waarin hulle genoeg belangstel sodat hulle sal wil lees. Vul jou voorraad boe­ke by die huis aan deur vir jou kinders boeke as verjaardaggeskenke te koop, deur die knip-uit en-bêreboekies in elke Nal’ibali-bylae te hou, en deur boeke by die biblioteek uit te neem.

2. Boek word weggebêre
As jy boeke op hoë rakke bêre waar kinders nie kan bykom nie, of hulle in kaste toesluit, moet kinders vra wanneer hulle boeke wil lees. Hulle moet eerder ’n boek kan optel wanneer hulle ook al lus voel om te lees! Bêre dus boeke op plekke waar kinders dit maklik kan vind en bykom.

3. Lees slegs vir jonger kinders hardop
Om hardop vir kinders te lees is die bes­te ding wat jy kan doen om hulle te help om hulle geletterdheidsvaar­dig­he­de te verbeter – en dit geld vir alle kin­ders. Hou aan om vir jou kinders te lees, selfs al kan hulle al self lees. Op hier­-die manier sal jy hulle motiveer om te lees en julle sal ontspanningstyd saam deurbring en ’n band bou deur boeke.

4. Hulle word nie toegelaat om hulle eie boeke te kies nie
Ons is meer geneig om ’n boek te wil lees wat ons self gekies het. Dit beteken nie jy moet nooit voorstelle maak oor boeke wat jou kinders behoort te lees nie, en dit is belangrik dat jy vir hulle wys hoe om meer oor ’n boek te wete te kom deur na die omslag te kyk en die flapteks te lees. Maar soms moet jy jou kinders die boeke laat kies wat hulle wil hê jy hardop vir hulle moet lees en die boeke wat hulle op hul eie wil lees.

5. Omkopery en straf
As jy lees aan straf koppel (“Jy het nie gelees nie, en daarom mag jy nie TV kyk nie!”) of as jy dit gebruik om hulle om te koop (“Ek sal vir jou ’n sjokolade gee as jy daardie boek lees.”), sal kinders nie lees as iets genot­vol beskou nie. En as ons wil hê ons kinders moet lewenslank lesers bly, moet hulle wil lees!

6. Nie genoeg tyd vir lees nie
As kinders te veel take het, of as hulle naweke en middae propvol aktiwiteite is, gaan hulle nie genoeg tyd hê om te lees nie. Dit is belangrik dat kinders elke dag tyd het wanneer hulle net kan ontspan en kan lees!

7. Jy lees self nie
Kinders leer uit wat jy doen en hulle volg jou voorbeeld! Hulle moet sien dat jy gereeld lees.