Drie boeke op die rak vir Kobus Minnie!

’N OUDTSHOORNIET se derde boek vanjaar verskyn binnekort op die rak!
Kobus Minnie, wat al jare lank skryf, se eerste twee boeke is vroeër vanjaar deur Malherbe Uitgewers gepubliseer.

Onlangs het hy die goeie nuus ontvang dat hulle ook ’n derde boek van hom, ’n kortverhaalbundel, gaan publiseer.

Kobus sê dit was vir hom moontlik om die boeke so kort na mekaar drukgereed te kry omdat sy kinderboek, Jan Dassie se Avonture, en talle gedigte uit sy digbundel, ABC van emosies, al voorheen in tydskrifte gepubliseer is.

“ ’n Kinderstorie is destyds in Die Taalgenoot gepubliseer. Van my gedigte het ook tussen 2017 en 2019 in SA Digters se See en Sand-bundel asook op Avbob se gedigtekompetisie se webwerf verskyn.

“My kinderboek het, soos omtrent al my werk, lessies in.

“Die eerste storie, Jan Dassie en die Haai, leer ons dat ons nooit alleen is nie – selfs in die gevaarlikste tye, is Jesus by ons en sal Hy ons red wanneer ons Hom aanroep.

“Die tweede storie, Jan Dassie en die hasie, leer ons dat ons almal dieselfde is; maak nie saak wie of wat ons is nie.

“Die derde storie, Sarel se seer tandjie, leer dat dit nie saak maak hoeveel pyn ons op aarde beleef nie, alles sal beter wees as ons net tot Jesus bid en in Hom glo.”

Hy sê sy digbundel gaan soos die naam aandui oor daaglikse emosies.

“En al sukkel ek en ’n menigte ander met die grootste siekte van die wêreld, naamlik depressie, is daar altyd hoop en lig al verkeer jy in die donkerste gat. Die bundel is nie net vir depressielyers nie, maar vir almal – arm of ryk, stadsjapie of plaasboer, jonk of oud, swaarmoediges of ligsinniges.”

Volgens Kobus is die grootste rede waarom hy skryf om sy gevoelens en ervarings te deel.

“Wie weet, iewers is daar dalk net iemand vir wie dit iets beteken.”

Hy sê hy is baie dankbaar vir sy talent en die steun en raad van sy geliefdes, vriende, oud-onderwysers, die Skrywersgilde van George en Oudts­hoorn asook Malherbe Uitgewers. Hy was veral verras toe Malherbe Uitgewers hom in Junie as een van hulle twee skrywers van die maand aangewys het!
Kobus se boeke is te koop by PNA op Oudts­hoorn of kan by hom (WhatsApp na 084 551 8969) bestel word teen R110 vir die kinderboek en R159 vir die digbundel.

Hy lewer gratis af op Oudtshoorn.

Boeke kan ook aanlyn by Malherbe Uitgewers bestel word by https://www.malherbe-uitgewers. co.za (Deur Liesel le Roux)