Akademikus en sportman Jan Snyman nog lank nie koud

Jan Snyman in sy kantoor. Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
Op 78 het prof Jan Snyman onlangs die boek Practical Mathematical Optimization, wat as teksboek vir nagraadse studente in wis­kunde, ingenieurs­wese, rekenaarstudie en an­der toepaslike wetenskappe kan dien, saam met ’n oud-student en me­deskrywer, Nico Wilken, die lig laat sien. Die boek handel oor wiskundige algorit­mes en word uitgegee deur die gesaghebbende Springer International Publishing AG van Switserland.

Snyman wat in 2005 as professor in die Departement Meganiese Ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP) afgetree het, en sy vrou, Alta, het in 2007 Oudtshoorn toe getrek en is inwoners van die Caves Aftreeoord. Hy gaan steeds voort met sy navorsing.

Volgens Snyman kan ’n wiskundige algoritme kortom as ’n stap-vir-stap rekenprosedure beskryf word. Elke wiskundige oplossing tot ’n probleem deur berekening van getalle, is feitelik terug te lei na ’n toegepaste algoritme. So kan ’n kookresep byvoorbeeld ook as ’n algoritme gesien word waar die bepaalde bestanddele op verskillende wyses en volgorde saamgevoeg kan word om die eindresultaat te verkry. By wiskunde verskil rekenmetodes hoe en in watter volgorde getalle opgetel, afgetrek, vermenigvuldig en gedeel kan word om die finale oplossing te bereken.

Die eerste uitgawe van dié boek waarvan Snyman die alleenskrywer was, het in 2005 verskyn. Die nuwe boek is ’n hersiene uitgawe en die werk daaraan het langer geduur as wat hulle verwag het, sê Snyman.

Ekstra hoofstukke is bygevoeg en die aantal bladsye het van 257 na 372 gegroei. As gevolg van die aansienlike wysigings moes die boek weer voorgelê word vir goedkeuring aan die uitgewer.

Snyman het gedurende sy lang akademiese loopbaan verskeie nasionale en internasionale toekeninnings vir sy navorsing ontvang en was promotor vir 26 meestersgraad- en agt PhD-studente. Hy was self ’n besoekende navorsingsge­noot (research fellow) aan die Universiteit van Oxford se rekenaarlaboratorium, die Weizman Instituut vir Wetenskap in Israel, die Universitieit van Florida en die Universiteit van Eindhoven in Nederland.

Die UP het in 2008 die eeufeesmedalje vir navorsing aan hom toegeken het vir “uitnemende prestasies wat bydra tot die vestiging van die Universiteit van Pretoria as ’n internasionaal-erkende navorsingsuniversiteit.”

Maar Snyman is ook ’n gebalanseerde mens wat elke dag voluit leef. Hy ontmoet elke Maandag sy gholfmaats op die

Oudtshoorn Gholfklub se eerste bof en is opgewonde oor elke lang dryf wat hy in die skoonveld laat beland, of lang set wat hy inrol. En hy pas ook weekliks ’n paar potte tennis in! Die Snymans reis ook graag na mooi plekke in die land. Hy vertel tennis en gholf is sy gunsteling­sportsoorte wat hy soms tot laatnag op TV volg.

Hoekom het die Snymans Oudts­hoorn as aftreeplek gekies? “Ek en Alta het nog altyd ’n voorliefde ge­had vir die klimaat, natuurskoon en rustigheid van die Klein Karoo. En nou ook vir die mense wat hier woon,” sê hy.

Hy is die broer van die bekende aktrise, Wilna Snyman, en tweelingbroer van Hennie Snyman, afgetrede rektor van die Port Elizabeth Technicon.