Deur Liesel le Roux
Met hoeveel respek bestuur jy?
RESPEK en motorbestuur is nie twee woorde in ons land wat dikwels in dieselfde sin gebruik word nie.
En dit is een van die dinge wat verkeerd is met hoe ons bestuur, sê ’n Oudtshoorniet verlede week aan Die Hoorn. Hy vertel dat hy bewustelik by elke stopteken stop, nie die spoedgrens oortree nie en altyd hoflik is teenoor ander bestuurders. Dié man het nie ’n probleem daarmee om vir ’n ander voertuig te wag nie.
Nou het ’n interessante ding begin gebeur, vertel hy. Bestuurders van ander voertuie wat hom leer ken het, het begin om met dieselfde hoflikheid teenoor hom op te tree. En dit geld ook die dorp se taxibestuurders, wat dikwels byvoorbeeld by ’n verkeersirkel vir hom sal plek maak om te ry en volgens hom altyd bedagsaam is teenoor hom.
As meer van ons hoflike bestuurders raak, sal al meer mense aansteek, glo hy.
Dié Oudtshoorniet se woorde is nogal iets om oor na te dink.
In Oudtshoorn is botsings op padkruisings, mense wat te vinnig of onder die invloed bestuur asook die ongeduld van bestuurders net so ’n probleem as elders in die land.
Hy het respek vir padtekens, verkeersreëls én vir ander bestuurders, sê die Oudtshoorniet.
“En hoekom nie?” vra hy.
Dis ’n vraag wat geldig is vir ons elkeen. Inderdaad – hoekom nie?
Hy vertel voorts dat hy daarom sonder enige uitsondering sy veiligheidsgordel dra.
Wat ons bring by die opskrif bo: Met hoeveel respek – vir jouself en ander – bestuur jy?
Versigtig met Facebook-skrywes
’n Hofuitspraak dat ’n man R20 000 moet betaal nadat twee howe bevind het hy het die prokureur, Johan Wagener, op sosiale media belaster, sal hopelik ’n paar mense laat wakker skrik.
Geen mens kan sonder ’n filter iets op sosiale media skryf nie. Alles wat jy daar neerpen – elke onwaarheid, elke belediging, elke woord waarmee jy ’n ander dalk afbreek – stel jou bloot. En, belangrik, dit help nie om jou kommentaar te verwyder nie. Wat eenmaal geskryf is, bly geldig.
Dis soos ’n meswond, sê iemand die week. Jy kan dit nie later terugtrek nie.
Dink en dink weer voor jy skryf.