Tania se Hekelwoorde nou boek

Drie kunstenaars het verlede Woensdagaand daartoe bygedra dat die bekendstelling van Tania Smit se bundel, Hekelwoorde van my hart, in die Klein Karoo Emporium op Oudtshoorn ’n aand was om te onthou. Hier van links is Julia de Beer, Tania, Paul Eilers en Jaco Kriek. Die Eilers het voorlesings uit die bundel gedoen, Jaco Kriek die teenwoordiges met sy saksofoon betower terwyl die jong Julia, Tania se dogter en ’n matriekleerder aan die Hoërskool Oudtshoorn, almal laat regop sit het met haar ryk stem. Tania se bundel is aanlyn te koop by www.hekelwoorde.co.za. Volg ook die Facebook-blad Hekelwoorde van my hart. Foto: Wyndham Ewerts

Deur Liesel le Roux
SY het eers sowat drie jaar gelede begin skryf, vertel Tania Smit, Oudtshoorniet wie se eerste boek, Hekelwoorde van my Hart, Woensdagaand by die Klein Karoo Ostrich Emporium bekend gestel is.

Dit was ’n ervaring tydens ’n besoek aan die Karoo wat vir haar so aangegryp het, dat sy net woorde op papier moes begin sit.

Sy het begin skryf oor dit wat sy ervaar het – sonder voorgee en eerlik.

Tania sê dat sy nie anders kan of wil skryf nie.

Toe sy die Facebookblad, Hekelwoorde van my hart, in Februarie 2017 begin het, het mense landwyd van haar skryfwerk begin kennis neem.

Sy het dinge raak en reguit gesê en nie gehuiwer om haar soms bloot te stel nie. Ander kon identifiseer met haar woorde oor menswees en saamwees en alleenwees, oor bly wees en hartseer wees. Haar skryfwerk het mense dwarsoor die land geraak en die Facebookblad en haar gewildheid het begin groei.

En toe het mense begin vra vir ’n boek. Uiteindelik het Tania besef dat haar woor­de in boekvorm gestalte moes kry. Dit was vir haar belangrik dat dié bundel iets moet wees waarop sy trots kon wees.

Sy het kundiges betrek om haar te help met al die aspekte van die uitgee daarvan. Onder hulle tel die De Rust-kunstenaar, Glendine, wat die sketse vir die boek gedoen het, en die akteur en Oudtshoorniet Paul Eilers, wat by die bekendstelling

voorlesings uit haar boek gedoen het.
Ook haar twee tienerkinders, Julia en Adie, het haar bygestaan. Julia het boon­op ook by die bekendstelling van haar ma se boek gesing.

Tania, wat in diens is van die Pam Gol­ding-groep, sê sy het nog nooit gevoel sy stel haar bloot wanneer sy eerlik skryf nie.

Boonop voel sy tuis en veilig tussen die mense van Oudtshoorn.

Na ’n egskeiding toe haar kinders klein was, het Tania en haar kinders vir ’n tydperk in Kaapstad gewoon. Na ’n aantal jare het sy egter besluit om terug te keer.

“Ek moes weggaan om perspektief te gaan kry oor baie dinge,” sê sy. “Ek is deel van ’n gemeenskap hier op Oudts­hoorn en sal nie hier weg nie. Vandag weet ek die dorp se mense is my familie en is daar vir my.”

In haar voorwoord skryf Tania onder meer: “Ek wil graag die woorde in hier­die bundel toewy aan elke mens wat hulself beskikbaar gestel het om my leermeester te word. Elke mens wat my moes teleurstel, my hart moes breek, my moes laat val, verraai, verlaat. Elke mens wat my brein moes kry om groter en verder te dink, my hart moes kry om verby my gren­se te gaan voel, of my lyf moes kry om te bly staan, al was al wat ek wou doen om weg te hardloop. Julle, die leermeesters, is die goud en wierook en mirre van die lewe.”
• Die bundel is aanlyn te koop by www.hekelwoorde.co.za of vanaf Vrydag by Karoo Antiques op Oudts­hoorn.