’n Wonderwêreld van clivias wat mens na jou asem laat snak, begroet besoekers jaarliks vanaf Augustus tot Oktober op Hendrik en Susan Schoeman se plaas, Nooitgedacht, op Volmoed.
Die Schoemans het in 2003 vanaf Grabouw na Oudtshoorn verhuis en hulle op die plaas gevestig. Volgens Susan het hulle met ’n bakkievrag van ongeveer 40 clivias vanaf Grabouw op Oudtshoorn aangekom.
“Ons het ons eie kruisbestuiwing begin doen, en so die clivia-tuin opgebou,” het sy aan Die Hoorn vertel. Volgens haar is nie een van die duisende plante in die tuin aangekoop nie. Daar is ook pragtige variëteite van oranje en geel.
Dit is ’n asemrowende belewenis om met die paadjies wat deur die blomtuin uitgelê is, te stap.
Susan en Hendrik is trots op hulle plante en deel graag die prag met ander. Daarom stel hulle jaarliks hulle tuin oop vir almal.
Besoekers kan Dinsdae, Donderdae en naweke met vooraf afsprake die blommeprag besigtig. Daar word ook plante te koop aangebied.
Een van die interessante feite wat Susan noem, is dat die plant eers begin blom nadat dit elf blare gevorm het. ’n Plant sal ook net een steel met blomme dra.
“Ek het ook al opgelet dat die bye nie die clivias bestuif nie, dit is ander insekte se werk,” het Susan met Die Hoorn se besoek vertel.
Mense wat hierdie pragtige gesig tot aan die einde van Oktober wil aanskou, kan gerus vir Susan by 084 258 9807 skakel om ’n afspraak te maak. (Lindi Brill)
Wonderwêreld van clivias betower
