
Vir Tameré Stewart van Gimmies was ’n onlangse reis na Londen veel meer as net ’n tennis toer. Die jong tennisspeler het van 25 Junie tot 4 Julie Suid-Afrika as deel van die SA Skole Tennisspan verteenwoordig en ’n onvergeetlike ervaring beleef.
Tydens die toer het Tameré die geleentheid gekry om by van Londen se voorste tennisakademies mee te ding. Sy het haar uitstekende vorm voortgesit en al haar wedstryde tydens die toer gewen – ’n prestasie wat haar talent en toewyding tot die sport beklemtoon.
Die hoogtepunt van die reis was egter die geleentheid om die gesogte Wimbledon-tennis-toernooi by te woon. Tameré kon van die wêreld se beste spelers van naby in aksie sien en het selfs die besondere voorreg gehad om van die top-spelers persoonlik te ontmoet.
Vir die jong sportster was dit ’n ervaring wat sy waarskynlik nog lank sal koester. Die toer het haar nie net waardevolle blootstelling op internasionale vlak gegee nie, maar ook die geleentheid gebied om inspirasie uit die wêreld se beste tennisspelers te put.
Gimmies het hul trots op Tameré uitgespreek en haar gelukgewens met haar prestasies. Haar sukses op die baan, asook die manier waarop sy haar skool en land in Londen verteenwoordig het, maak haar ’n besondere ambassadeur vir Gimmies.
Tameré se Wimbledon-avontuur is ’n bewys dat harde werk en talent jong sportlui na groot hoogtes kan neem. (GRANWILLE GOLIATH)
Be the first to comment on "Van Gimmie tot Wimbledon"