Oudtshoorn het Saterdag die speelplek geword vir ’n vriendskaplike, maar strawwe domino-kragmeting toe die Langeberg Landelike en Omliggende Domino Vereniging (LLODV) na die dorp gereis het om teen die Oudtshoorn Domino-unie mee te ding.
Die twee unies het ’n paar jaar gelede begin hande vat met die doel om domino’s in die streek verder uit te brei en te bevorder. Sedertdien het die jaarlikse kragmeting tussen die twee unies ’n belangrike geleentheid op hul kalender geword.
Hoewel die wedstryde in ’n vriendskaplike gees gespeel word, is daar geen tekort aan mededinging wanneer die eerste domino neergesit word nie.
Saterdag se byeenkoms was besonder spesiaal vir LLODV, aangesien hulle Oudtshoorn vir die eerste keer in die geskiedenis van die jaarlikse kragmeting kon klop.
Die spanne is aanvanklik in twee groepe ingedeel en het volgens ’n rondomtalie-formaat teen mekaar meegeding. Die wedstryde was van die begin af mededingend, met beide unies wat duidelik gewys het dat hulle op die dag wou wen.
Ná die groepfase het die twee spanne hul pad na die finale wedstryd gevind. Die eindstryd het vir groot spanning gesorg, maar LLODV het uiteindelik die deurslag gegee en die wedstryd met 4–2 beklink.
Die Oudtshoorn Domino-unie het ná afloop van die dag hul waardering uitgespreek teenoor almal wat tot die sukses van die byeenkoms bygedra het. ’n Spesiale woord van dank is gerig aan die Oudtshoorn Munisipaliteit vir die gebruik van hul geriewe, asook aan Die Hoorn vir die borg van die sertifikate.
Die unie het ook vir LLODV bedank vir hul toer na Oudtshoorn en, laastens, aan al die spelers wat deel van die dag was.
Hoewel LLODV met die oorwinning huis toe is, het die dag weereens bewys dat sport vriendskappe bou en domino’s mense bymekaarbring. (GRANWILLE GOLIATH)
LLODV skryf geskiedenis teen Oudtshoorn domino’s unie
Foto: Granwille Goliath
Be the first to comment on "LLODV skryf geskiedenis teen Oudtshoorn domino’s unie"