
Die kapteins van die Struisies se eerste sportspanne is van links Steffan Schoeman (rugby), Carla Swart (meisieshokkie), Carla van Zyl (netbal) en Didier Blacquire (seunshokkie). Agter is StixTheunissen, direkteur sport by Struisies. Foto’s bo en onder: Ben du Preez

Die kapteins en afrigters van Gimmies se sportspanne is van links Niël Els (seunshokkie), Andreas Schultz (hokkie-afrigter), Tania van der Linde (netbalafrigter), Inge Johnston (netbal) Devan van der Linde (rugby), Helena van Heerden (meisieshokkie), Ronelle Engelbrecht (hokkie-afrigter), en Alewyn Vorster en Ben Janse van Rensburg (rugby-afrigters).
Deur Ben du Preez en Ilze-Mari Gründling
GROOT opgewondenheid heers vir Saterdag se jaarlikse sportdag tussen die Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium op die Struisies se sportvelde.
Die Hoorn het met die kapteins van al die eerste spanne gesels oor dié groot geleentheid.
• Devan van der Linde, kaptein van Gimmies se eerste rugbyspan, is positief oor sy span se wen-kans. “Ek het volle vertroue in my span en hulle ondersteun my. Hoewel die Struisies vanjaar baie goed vaar, gaan ons nie vir enigiets terugstaan nie.” Steffen Schoeman, kaptein van die Struisies se eerste rugbyspan, sê hy het geen twyfel dat Gimmies alles gaan gee nie “en ons tot die uiterste beproef. “Ons is vanjaar 15 broers wat vir mekaar omgee. Hoewel ons aanvanklik gesukkel het, speel ons nou goed saam. “Dit is werklik ’n voorreg om hierdie span op die veld te lei vir wat ’n titaniese styd gaan wees. Ek wens albei spanne sterkte toe.”
• Carla Swart, kaptein van die Struisies se eerste meisiehokkiespan, sien baie uit na die wedstryd teen Gimmies. “Ability is what you are capable of doing. Motivation determines what you do. Attitude determines how well you do it. Mag die beste span wen, ons is reg vir julle,” het sy gesê.
Haar Gimmie-eweknie, Helena van Heerden, sê sy en haar span sien baie na hul wedstryd Saterdag uit. “Dit gaan ’n taai game wees, maar ons is reg vir hulle. Ek glo in my span en ons sal niks minder as ons beste gee nie.”
• Niel Els, kaptein van Gimmies se eerste hokkiespan, sê die Gimmies het die afgelope paar jaar telkens gelykop gespeel teen die Struisies. “Ons gaan niks ontsien om vanjaar te wen nie.”
Didier Blacquire, captain of the Struisie first boys’ hockey team, says he is really excited about this weekend’s match. “I know it will not be an easy match, but I believe in my team and know we will make the Struisies proud.”
• Carla van Zyl, kaptein van die Struisies se eerste netbalspan, sê sy en haar span sien baie daarna uit om teen Gimmies mee te ding aangesien hulle tot dusver ’n baie goeie seisoen gehad het en graag daarop wil voortbou. “Ek glo dit sal ’n aanskoulike wedstryd wees en dat dit in ’n goeie gees sal plaasvind.”
Inge Johnson, kaptein van Gimmies se eerste netbalspan, sê hoewel vanjaar se wedstryd baie uitdagend gaan wees, sy nogtans opgewonde is.
“Ek kan nie wag nie. Ons gaan ons beste gee en speel om dit te geniet.”