As motoris het ek vir lank gedink fietsryers is die mees selfsugtige spesie op die planeet. Hulle ry in die middel van die pad en maak nes hulle lus het. Dit was my opinie.
Op ’n dag ontdek ons dat ons middelkind ’n talent het om fiets te ry en hy begin daagliks saam met ander fietsryers op die paaie in en om Oudtshoorn oefen.
Natuurlik spreek ek as ma en motorbestuurder hom aan oor al die moets en moenies.
Hoe hy moet ry, waar hy moet ry en hoe hy moet maak. Dis nou om hom veilig te hou, maar ook om van hom ’n ordentlike fietsryer met maniere teenoor motoriste te maak. My raad is om so na aan die rand van die pad as moontlik te ry, en stop by kruisings en te wag tot al die karre gery het, en te wys met die hand watter kant toe gedraai word al is die kar nog 100 m ver.
Op ’n dag besluit ek en my man ons gaan vir ons gesondheid self begin fietsry. Ek kom nie by oefen uit nie en dit neem te veel tyd om my perd in ’n boks te laai en op ’n ander plek op te saal. Vir jare het ek my teëgesit as dit by fietsry kom, want dit lyk alles behalwe lekker, maar die wintervetjies wil net nie los nie. Ek word gedwing om op daai tweewielmartelmasjien te klim.
Dag een ry ons sowat 20 km grondpad na Schoemanshoek se kerk en terug. Swoeg en sweet opdraandes op en afdraandes trek ek die briek amper uit sy kabels. My medefietsryers los en ry teen die spoed van wit lig daar af; duidelik nie bang nie. Op ’n stadium sê my man ek moet padgee, want agter my ry ’n bakkie al geduldig vir wie weet hoe lank. Hier besef ek, met die wind in mens se ore hoor jy nie karre nie. Les een is geleer.
Dag twee ry ons die pad Safari volstruisplaas se kant toe, maar eers ’n groot gedeelte deur die veld. Hier jaag die vlieë agter ons aan omdat wit klere duidelik hul gunstelingkleur is.
Êrens vermoed ek, het ek een ingesluk en troos my aan die proteïene wat my lyf nodig het vir die getrap. Uiteindelik is die afdraai na Jan van Riebeekweg in sig en daar is mos ’n lekker breë skouer, so ek kan vandag uit karre se pad bly as die wind in my ore suis.
Dag drie hou ek my braaf en ons trap op met die R62 langs en links in Mosselbaai se rigting tot by Bakenskraal se afdraai. Hier is geen skouer nie, behalwe die grond, klippe en glasstukke. Dis glad nie ’n opsie vir ry nie. Ek probeer so naby as moontlik aan die rand ry, maar besef dat sou die wiel gly en daar ’n kar van agter kom, ek beslis onder hom gaan beland. Dis veiliger om maar effe meer na die middel te ry.
By die afdraai vang ons ’n afdraand. Dit bring ’n welverdiende lafenis, maar ook met sy eie pro-bleme. Afgesien daarvan dat hier steeds net ’n sand en klip skouer is, is daar boonop nog gate, duike en dongas teen die rand.
Iets wat ek nog nooit uit die kar gesien het nie. Nog ’n groter gevaar vir val, en op amper 40 is parte mos maar aan die skaars kant en val is beslis nie ’n opsie nie.
Nou besef ek waarom fietsryers ry soos hulle ry. Ek moes dit self doen en daarom verstaan ek bietjie beter. Hulle is nie selfsugtig nie, maar net versigtig. In die toekoms sal ek eerder stadiger verby ry met meer spasie tussen my kar en die fiets, want mens weet nooit waar ’n donga in die pad lê nie.
Of dit lekker is om fiets te ry, kan ek nog nie besluit nie. Ook nie of dit help om gewig te verloor nie. Ek behou my reg tot opinie vir later.
Sonde met fietsryers
