Ons weet wat julle nog nie weet nie

Deur Johan Strasheim

Ek was in 1974 in matriek. Ja, 1974 … Dit is lank terug – 50 jaar om die waarheid te sê. Wat het in 1974 gebeur wat spesiaal is? Jy kan rondvra, maar dit is lank terug en niemand gaan waarskynlik lekker onthou nie. So, jy Google maar …

Willie John McBride se Britse Leeus het kom toer en is onoorwonne terug huis toe. Hulle was ’n merkwaardige toerspan. In Amerika het die Watergate skandaal en die Viëtnamoorlog tot ’n einde gekom. Verder nie veel nie. Dit was maar ’n vaal jaar … en die beste wat ek kon kry was … die Rubik’s Cube wat daai jaar die lig gesien het!
Hoe “lame” is dit?!

Aan die ander kant, kon ons groep 1974 matrieks almal by ’n voortreflike skool – daardie jaar matrikuleer en deel van die spesiale groep, naamlik die Menlopark alumni word. Ons het dit nie destyds besef nie, want ons is in daardie dae eenvoudig na die naaste hoërskool toe aan waar jy bly. Ons het eers later besef watter geleentheid ons gekry het by ’n skool met ’n wonderlike etos. Hoe “cool” is dit?

Seker maar soos al die ander jaargroepe, is die matrieks van 1974 vandag letterlik die aardbol vol met grade en diplomas in ’n magdom dissiplines, in alle beroepe en besighede denkbaar – alles te danke aan ’n goeie fondasie wat daar gevestig is. ’n Hele paar is natuurlik al afgetree ook!

Ons wil maar almal suksesvol wees en ondervinding is alles. Ongelukkig beteken ondervinding jy word eers getoets en daaruit kom die les. So gaan ondervinding op jou soeke na sukses en geluk jou ’n klomp goed leer.

Ons klas van ’74 het nou 50 jaar se naskoolse lewenslesse bymekaargemaak in ons soeke na sukses en geluk.

Julle sien, dit is waarom ons weet wat julle nog nie weet nie! Daar is BAIE lesse, ek deel vining net enkeles …

Moenie windgat wees nie – Sukses is goed en baie van julle gaan suksesvol wees, hoe jy ookal sukses bepaal – maar bly nederig. Mense hou nie van windgatte nie.

Windgatte is meerderwaardig en verwaand en dit is aaklig. Klim asseblief die lewensberge van sukses om die wêreld te sien, maar nie sodat die wêreld jou kan sien nie. As jy bo is, geniet dit, jy gaan nie altyd daar bly nie.

Jy het twee ore en een mond vir ’n rede. Luister meer as wat jy praat en verstaan sodoende die ander kant se perspektief voor jy joune stel. Dit is wysheid.

Tel jou woorde en sit ’n wag voor jou mond. Skerp woorde kan bitterlik en permanent seermaak. Dink voor jy praat. Om verskoning te vra laat jou miskien beter voel, nie noodwendig die ander ou nie, en dit maak nie die skade ongedaan nie.

Voor jy oordeel sit jou in die ander ou se skoene. Ons dra almal kruise in die lewe, almal. Sommige groot en duidelik, ander klein en onsigbaar. Meeste van hulle kan jy nie sien nie so hou maar terug.

Sorg vir die geestelike speek in jou lewenswiel – onthou geloof is ’n stuurwiel, nie ’n spaarwiel nie. Dit moet jou daaglikse doen en late bepaal en is nie net iets waarna jy na gryp as jy moeilikheid het nie.

Gesondheid – uiters belangrik. Kyk agter jou gesondheid en jou liggaam – jy kry net een. Onthou my 30/60/90 beginsel. Op 30 begin dinge skeefloop en die manne begin sigbaar dik raak. Die ouens is in die pylvlak van hulle professionele loopbane en die lewe begin gemaklik raak – maar tyd vir oefening raak al minder en die verskonings al meer.

Hier by 60 raak dinge ernstig met pille, brille, hartsiektes en selfs kanker. Jy hoor van hartaanvalle, hartomleidings, knie- en heupvervangings – by maats wat soms baie goeie sportmanne was! Ek het ook daaroor gelag tot dit hier om my begin gebeur het. As dit baie goed gaan, haal jy dalk die 90’s …

Daar is egter ’n lang lys goed wat ons ervaar het wat julle ongelukkig nie gaan nie, alhoewel ek werklik wens julle kon:

  • Die eerste maanlanding. (As dit wel gebeur het!)
  • Ons eerste Rugby Wêreldbeker in 1995 met ’n Parkie (Rudolph Straeuli) in die span. Dit was spesiaal.
  • Die Concorde wat oor die skool gevlieg het tydens sy toetsvlugte in omtrent 1971.
  • Ons het gelewe deur die werklike goue era van rock- en popmusiek met Elvis, groepe soos Led Zeppelin, Black Sabbath, Jethro Tull, die Rolling Stones en die Beatles in lewende lywe.

Die lewe is ’n oneindige reeks besluite en jy gaan meeste moet neem sonder ondersteuning en op jou eie. Dit is nou maklik wamt jy het ’n lekker ondersteuningsnetwerk met jou ouers en gesin om jou. Dit verander. Nie lank nie en dit is siektes, huisverbande, oortrokke rekeninge, besighede wat sukkel, kinders wat probleme het en so aan. Met ander woorde, die grootmenslewe.

Besluite het uitkomste – soms goed en soms sleg. Mense kom dinge oor, die beskermengele kan nie oral wees nie al werk hulle oortyd. ’n Verskeidenheid dramas van die lewe sal julle paaie kruis. Moenie dat dit jou briek nie. Uithou, aanhou, bekhou.

Hulle sê alles gebeur vir ’n rede … maar onthou altyd dat baie keer is die rede dat jy onnosel is en slegte besluite neem! Dink voor jy doen.

Geniet die lewensreis, gaan met trots die wye wêreld in soos ek en my groep matrieks en gaan maak die wêreld ’n beter plek. Dink aan hierdie dag in 2074 wanneer dié van julle wat so bevoorreg soos ek is om 50 jaar na julle matriekjaar, terug te kan kyk.

Ek sluit af met een van John Lennon se bekendste aanhalings wat ek hoop julle onthou …

“When I went to school, they asked me what I wanted to be when I grew up. I wrote down ‘happy’. They told me I didn’t understand the assignment, and I told them they didn’t understand life.” (JOHAN STRASHEIM)