DIE voormalige polisiekaptein wat 40%-brandwonde opgedoen het tydens ‘n brand in die vroeë oggendure van Sondag 9 Augustus 2020 by die Cango Retreat Ou Tol in Schoemanspoort buite Oudtshoorn, is Maandagaand (25 Augustus 2020) oorlede.
Dolly Subramoney-Hodgson (53), voormalige polisiekaptein en -woordvoerder van George, se een seun, Delaney, het Maandagaand op Facebook geskryf dat sy ma om 18:40 vreedsaam in die George Hospitaal gesterf het. “Ons (hy en sy broer D’Angelo) het die hele dag by haar deurgebring, boodskappe en stemboodskappe aan haar oorgedra, ou stories herleef en gewys hoe lief ons mekaar het,” het hy onder meer geskryf.
Subramoney-Hodgson het die brandwonde opgedoen terwyl sy en twee vriendinne uit hul huis gevlug het nadat die brand uitgebreek het. Vlamme het die huis waarin hulle gebly het, binnegeskiet toe hulle die voordeur oopgemaak het, en hulle moes daarna ‘n vensterruit breek om te kon ontsnap. Pogings om haar op 18 Augustus per ambulanshelikopter na die Tygerberg Hospitaal in Kaapstad oor te plaas nadat haar toestand versleg het, is laat vaar toe die helikopter as gevolg van slegte weer nie in Kaapstad kon land nie.
Subramoney-Hodgson het as eiendomsagent in die Tuinroete gewerk nadat sy in 2015 uit die SAPD bedank het.
Drie houthuise van die sewe vakansiehuise by die Cango Retreat en ’n motor van een van die gaste is deur die brand in puin gelê.
Die brand is vermoedelik veroorsaak deur ‘n sterk wind wat die nag opgekom en dalk ’n braaivleisvuur laat opvlam het. (Berig deur Liesel le Roux)