Die saak teen ’n man van Rose Valley wat van die verkragting van ’n 9-jarige meisie, 10 jaar gelede aangekla word, is Dinsdag in die Oudtshoorn streekhof na die slotbetoë van die staat en die verdediging vir uitspraak tot 19 Augustus 2025 uitgestel.
April Adams (69) word daarvan aangekla dat hy tussen 2015 en 2018 die klaer verskeie kere verkrag het, en ook beskermingsbevele ver-ontagsaam het.
Die klaer, nou 18, het getuig dat Adams haar in 2015 vir die eerste keer in sy huis verkrag het terwyl sy vrou in ’n dronkslaap was en daarna nog verskeie kere. Sy het egter eers lank daarna dit aan haar ouers vertel.
April pleit onskuldig en sê die klaer en haar ouers het ’n storie teen hom opgemaak. Sy vrou, Maria April, het getuig dat sy aanvanklik nie van die beskermingsbevele geweet het nie.
Die ouers het getuig dat Adams hom nie aan die voorwaardes van die interdikte gesteur het nie.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, versoek die hof om April op albei klagtes skuldig te bevind terwyl sy regshulpprokureur, Brian Carels vir sy vryspraak vra omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks, Adams bly in aanhouding. (GARNETT WICOMB)
Saak teen April Adams vir uitspraak uitgestel
