AFGESIEN van die groot finansiële implikasies wat die huidige landwye inperking op families en besighede het, is daar ook ’n beduidende toename in spanningsimptome by mense wat direk verband hou met vrese rondom Covid-19, sê dr Clifford van Wyk, ’n psigiater van Oudtshoorn.
Die vrese sluit in dat mense self die siekte sal opdoen, asook die vrees dat naby familielede en geliefdes siek kan raak. Daar is ook die vrese van ouers oor hulle kinders en die onsekerheid oor wanneer leerders weer skool kan hervat, asook ’n algemene onsekerheid oor die toekoms.
Volgens Van Wyk ervaar hy eerstehands die impak van die inperking op gesinne in Volmoed waar hy bly. “Mense wat daagliks na Oudtshoorn toe gereis het, sommige per fiets, het skielik geen inkomste nie en kon nie kos vir hul gesinne koop nie.”
Hy het 14 gesinne geïdentifiseer wat weekliks ’n hoenderpakkie vanaf sy hoenderboerdery ontvang. “By die afhaal van die skenkings, spreek hulle hul dankbaarheid uit, maar ook hul spanning weens die benardheid van hul situasie.”
Baie van dié gesinne het – soos talle besighede en werknemers in die streek – steeds geen hulpverleningsgeld of geld van die Werkloosheidsfonds (WVF) ontvang nie.
Verbod op drank en sigarette
Die impak van die skielike verbod op alkohol, al is dit goed bedoel, het ook op Oudtshoorn ernstige implikasies op die gesondheid van chroniese drinkers, sê Van Wyk.
“Daar is ’n desperate poging by hierdie mense om hul drankgebruik voort te sit. Dit sluit in die selfvervaardiging van alkohol terwyl daar selfs mense is wat spiritus in die plek van drank begin gebruik. Dit kan dodelike gevolge hê.
“Die verbod op sigaretverkope, weer eens met goeie bedoelinge, het in hierdie spanningsvolle tyd ook negatiewe gevolge op mense met chroniese angstoestande wat skielik nie meer toegang tot sigarette het nie. Uit desperaatheid wend hulle hul tot die swartmark, wat tans floreer met groot winste uit die onwettige verkope van sigarette.”
Obsessief-kompulsiewe simptome vererger
Obsessief-kompulsiewe simptome kan in hierdie tyd vererger, soos die konstante was van hande of die oorbodige gebruik van handreinigers en om aan niks te wil raak nie.
“Die ander risiko-groep is gesondheidswerkers. Behalwe hul risiko om Covid-19 op te doen omdat hulle op die voorpunt van die stryd teen die virus werk, het hulle ook ’n baie hoë risiko vir emosionele probleme of spanningstoestande.”
Riglyne vir emosionele gesondheid
• Bly doelgerig en positief in hierdie tydperk. Dit kan jou help om geestelik sterk te bly.
• Gebruik jou ondersteuningstelsel. Praat met mense wat jy vertrou oor dinge wat vir jou stresvol is. Hulle kan nie noodwendig jou probleem oplos nie, maar deurdat ons met iemand praat, plaas dit dikwels jou situasie in perspektief.
• Behou sosiale kontak. Handhaaf fisieke afstand, maar nie op emosionele vlak nie! Bel, sms en video call geliefdes.
• Vestig ’n roetine en handhaaf dit daagliks.
• Eet gesond, en oefen binne die riglyne van die inperking.
• Ontferm jouself oor die welstand van ander, maar maak ook ruimte om jouself te bederf.
• Maak gebruik van ontspanningstegnieke of asemhalingstegnieke.
• Fokus op die oomblik, terwyl jy kalm erkenning en aanvaarding aan jou gevoelens, gedagtes en liggaamlike sensasies gee. (Bekend as mindfulness). (Deur Angelique Erasmus)