‘n Waterbeurt aan al 150 lede van die Stompdrift-Kamanassie Watergebruiksvereniging (SKWGV) is op die oomblik in volle swang. Vir sowat 70% van dié organisasie se lede, is dit die eerste water wat hulle sedert November 2016 uit ’n opgaardam kry.
Volgens Riaan Krüger, uitvoerende bestuurder van die SKWGV, kon die vereniging met dié beurt gerugte dat daar teen sekere lede gediskrimineer word, onwaar bewys.
Water is aan alle lede toegeken, ook aan dié derde wat gesamentlik meer as R4,3 miljoen agterstallig is met hul heffings en rente daarop.
’n Verdere gerug, dat boere met skuld by die SKWGV se waterregte verkoop sou word om hul skuld te delg, is ook onwaar, sê Krüger. “Soos die gebruik is, het ’n paar boere hierdie waterbeurt aan mede-boere verkoop. Omdat dit net ’n beurt is wat verkoop is, beïnvloed dit nie enige plaas se waterregte, soos vervat in sy kaart en transport nie.
“Anders as wat gerugte dit wil hê, het die SKWGV baie simpatie met sy droogtegeteisterde lede,” sê Krüger. Die SKWGV se verteenwoordig-ende raad van twaalf boere het byvoorbeeld ’n rentevergunning ingestel, boere is genooi om afbetalingsooreenkomste te sluit en waterbelasting is pro rata per trajek verdeel, wat vir meer as 90% van lede ’n besparing meebring.
Hoewel die vereniging die reg het om te dagvaar vir uitstaande skuld, is hierdie reg in die 55-jarige bestaan van die vereniging nog nooit toegepas nie.
Volgens Krüger sou die beurt al op 28 April begin het, maar danksy die 15 tot 25 mm reën wat op 26 April in dele van die SKWGV se bedieningsgebied geval het, is dit tot 4 Mei uitgestel, sodat boere wat reën gehad het, kon ploeg en saai. Hierdie boere kan nou die waterbeurt vir opvolg-benatting aanwend.
’n Sogenaamde eenduimbeurt is toegeken, nadat Stompdriftdam se watervlak tot 22% gestyg het. Ná afloop van die beurt, wat na verwagting tot 17 Mei sal duur, en sonder enige aanvulling van die dam se vlak, sal Stompdriftdam op 5% staan. Die Kamanassiedam het ’n skrale 1,3% water.
Die 105 boere wat vir die eerste keer in meer as drie jaar water gekry het, se plase lê op Trajek C van die SKWGV se kanaalstelsel. Dié trajek begin by Rooiheuwel en eindig by Jan Fourieskraal in die Calitzdorp-distrik.
Die 45 boere in Trajek A en B het ’n voorskot van 4% in Mei 2018 en 6% in Mei 2019 ontvang. Hierdie voorskot is verhaal teen die huidige beurt.
Krüger vertel dat die waterbeurt nie sonder voorval verloop nie. “’n Grondkanaal naby die Kamanassiedam, waarin water teruggestoot het, het Maandagoggend erg gelek en ons moes vinnig groot masjinerie ontplooi om optimale vloei te verseker en waterverlies te beperk. Dit gebeur ook plek-plek dat krane verstop of selfs bars.
“Ons vermoed die aardbewing van 18 Oktober 2016 het ’n swakplek in die kanaalwal veroorsaak,” sê hy.
Die SKWGV is verantwoordelik vir die bestuur van water uit die Stompdrift- en Kamanassiedam en onderhoud aan sowat 140 km kanale, slote en pypleidings. Volgens Krüger is onderhoud veral nodig in droogtetye en daarom word toegelaat dat die laaste water in die Kamanassiedam nou in die Kamanassierivier loop, sodat die geblokte sluise herstel kan word. Boere langs hierdie rivier se loop, sal die water kan benut.
Uitgereik deur: Riaan Krüger, uitvoerende bestuurder van die Stompdrift-Kamanassie Watergebruiksvereniging.