Oop, eerlike, positiewe gesprek om dorp te red

’N GESPREK verlede Donderdag tussen die Oudtshoorn Munisipaliteit en verteen­woordigers van die Oudts­hoorn Besig­heids­kamer, Oudtshoorn Toe­risme en Oudts­hoorn Agri was oop en eerlik met die gesamentlike doelwit om die dorp te help om ekonomies te oorleef.

Die Covid-19-pandemie is ’n uitklop­hou vir besighede op Oudtshoorn nadat die voortslepende droogte die afgelope jare en die uitdagende ekonomiese klimaat in Suid-Afrika die dorp reeds onder groot druk geplaas het, sê Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn Besig­heids­kamer.

Die kansellasie van die KKNK het die dorp se ekonomie ook lelik seergemaak.

“Oudtshoorn se ekonomie was reeds in krisis voor die pandemie. Die pandemie is net die uitklophou.

“Besighede se reserwes is uitgeput en daarom slaan hierdie inperking ons so hard. Besighede kan nie meer die finansiële druk absorbeer nie.”

Vorster sê almal wat die gesprek bygewoon het, is dankbaar oor die openheid en eerlikheid daarvan.

“Almal was eensgesind oor die belang­rikheid daarvan om die dorp ekonomies te help oorleef.”
Vorster sê dit was belangrik vir die Besigheidskamer dat die voorsitter van Oudtshoorn Toerisme, Tammy Moult, en Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo (AKK) se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, ook die vergadering moet bywoon.
“Toerisme en landbou is ook besighede. Toerisme hier is tans eintlik dood. Toerisme was die laaste jare ’n lewenslyn vir landbou wat platgeslaan is deur die droogte met baie landbouers wat oorgeslaan het na agri-toerisme en in die toerismebedryf belê het.”
Vorster sê voorts die besigheidsgroep was dankbaar dat daar aan ’n verskeidenheid kwessies aandag geskenk kon word – byvoorbeeld oor wat die rol van ’n verlaagde begroting sal wees op belangrike kapitaalprojekte waardeur die dorp se paaie, oop ruimtes en riool­stelsel onderhou moet word.
“Die privaatsektor se realiteit is dat besighede gedwing is om hul begrotings aan te pas en koste te sny. Ons glo die munisipaliteit sal hierdie realiteit moet reflekteer deur ook hul begroting aan te pas en koste te sny.”
Gerald de Jager, finansiële hoof van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, het op sy beurt ook die gesamentlike vergade­ring as baie suksesvol bestempel.
“Dit het in ’n baie goeie gees plaasgevind, met alle partye wat oop en eerlik was oor die uitdagings waarvoor die Groter Oudtshoorn en die gemeenskap tans staan.
“Beide partye het hulle daartoe verbind om wedersyds aanvaarbare oplossings te vind vir al die uitdagings wat die eko­nomiese volhoubaarheid van die dorp bedreig.
“Die munisipaliteit het die beginsels waarvolgens die 2021-begroting opgestel is, met die Besigheidskamer gedeel, met spesifieke verwysing na ekonomiese en finansiële lewensvatbaarheid.
“Die Besigheidskamer het op sy beurt ook konstruktiewe voorstelle gemaak oor hoe hulle dink die munisipaliteit hul be­perkte hulpbronne kan aanpas en kan hertoeken.
“Die munisipaliteit onderneem om, voor­­dat die begroting deur die raad aanvaar word, terugvoer te gee aan die Besigheidskamer en ander belanghebbendes wat besware geopper het.” (Deur Liesel le Roux)