Kind slim-maak is sowaar nie (kinder-)speletjies nie!

MEESTE ouers wat tydens die Covid-19-inperking hul kinders tuis moet onderrig, het teen hierdie tyd al meer as genoeg die woorde “Ag, maar mamma” dit, of “ag, maar pappa” gehoor. Soos ’n ou, gekrapte grammofoonplaat wat onophoudelik speel.

“As dit nie een ding is nie, is dit die ander wat sy aandag aftrek,” sê Tiffany Juta, ma van Elijah, ’n sesjarige graad 1-leerder by Laerskool Wesbank.

Tiffany is boonop ’n Engelsprekende enkelma wat in Afrikaans moet klasgee.

“Mens voel sleg om dit te sê, maar jy as ouer mis die skool en onderwysers, en wil net hê die skool moet weer oopmaak om te keer dat jy self waansinnig raak,” erken sy met ’n skaam lag.

Luister mens na Tiffany, klink die stryd om die aandag van ’n sesjarige te hou, asof dit ’n vreedsame voorstedelike huis in ’n oorlogsone kan verander!

Soos die meeste ouers was Tiffany ietwat paniekerig en met die hande in die hare toe die regering aankondig dat skole ’n onbepaalde tyd gesluit word.

“Ek het nie geweet waar om te vat of te los nie. Eerstens is daar die knaende vrees dat jou kind reeds die virus opgedoen het en nog nie simptome wys nie, en tweedens die kommer oor sy opvoeding.

“Huiswerk is een ding, maar ek het nie geweet of ek die mas sou opkom met die tuisonderrig nie,” vertel sy.

Maar klasgee moes sy klasgee, ter wille van Elijah – ’n energieke, intelligente jong man wat soms weet presies net hoe “om sy moeder se knoppies te druk”.

Baie vinnig het daaglikse opdragte op ’n Whatsapp-groepie, gestig deur Elijah se onderwyser, begin instroom.

“Ek moet bieg, ek was bang,” sê Tiffany.

’n Lessenaar vir die woelige Elijah is in sy kamer ingerig, met potlode, kryt en ’n uitveër almal in ’n chaotiese orde voor hom (en deur hom) uitgelê.

“Meeste dae is speeltyd, sy flieks en stories baie belangriker as skoolwerk.

Ek dink ek sal ook eerder karretjies wil speel of in die tuin wil rondhardloop as ek kon. ‘Hoekom moet ek?’, ‘Ek wil nie!’, en ‘Nie nou nie, Mamma!’ hoor ek ge­reeld. Dan probeer ek verduidelik hoe belangrik sy skoolwerk is en kry hom darem so ’n rukkie rustiger.”

Vir klein Elijah is die inperking en tuisbly iets wat sy onskuldige intellek nog nie lekker begryp nie.

Hy hou daarvan om nie vroeg hoef op te staan of skool toe te gaan nie, maar hy verlang vreeslik na sy maatjies.

“Dit is baie moeilik om aan hom te verduidelik hoekom hulle nie oor en weer mag kom kuier nie. Dit breek ’n ma se hart.

“Die hele korona-storie is maar soms moeilik vir hom om te verstaan.”

Tiffany sê egter die feit dat party dae vir haar en haar seun moeiliker is as ander, is egter tans die laaste van haar bekommernisse.

“Wat die swaarste op my gemoed druk, is dat, indien my kind wel kan teruggaan skool toe, hy moontlik eers ’n inenting sal moet kry.

“Hy sal moontlik heeltyd ’n masker oor daai gesiggie moet sit.

“Hy sal dalk nie eens met sy maatjies kan speel nie.

“My kommer is dat sy jong lewe nooit weer sal terugkeer na normaal nie.” (Deur Stefan Skapie Goosen)