Nuwe baadjie vir Ithemba-skuiling

themba Huis vir haweloses in Jubileestraat Foto: Lindi Brill

Die bestuur van die Ithemba Huis vir Haweloses in Jubileestraat, Oudtshoorn, is oorstelp deur ’n bedrag van R230 000 wat deur die department van sosiale ontwikkeling (DSD) aan die skuiling bewillig is.

Die befondsing stel hulle in staat om die geriewe in die huis op te knap. Alhoewel die geld ’n groot hupstoot is, sal die totale koste van die opknapping wat twee afsonderlike badkamers en storte vir mans en vroue insluit, R400 000 beloop as dit op die mees bekostigbare wyse gedoen word.

Schalk Marais, tesourier van die skuiling, sê dat die ontwikkeling in vyf fases gedoen gaan word. Die eerste drie fases behels die bou van aparte badkamers vir mans en vroue wat elk drie toielette en drie storte sal bevat.

“Op hierdie stadium deel 15 mans en 9 vroue een badkamer,” het Marais gesê.

Hy verduidelik dat die munisipaliteit reeds toe-stemming vir die nuwe aanbouings verleen het aangesien dit hul eiendom is wat aan die skuiling gegee is om te gebruik.

“Ons hoop dat die munisipaliteit ook sal inkoop om ons finansieel te kan bystaan met die aanbouings aangesien ons hul eiendom verbeter, maar ons kan nie daarop staatmaak nie aangesien die ooreenkoms bepaal dat onderhoud en instandhou-ding vir ons eie rekening is.”

Marais sê hulle langtermynplan is om skeeps- vraghouers te gebruik vir addisionele akkommodasie agter die huis om vir meer haweloses verblyf te verskaf. Volgens hom is daar ongeveer 150 haweloses in Oudtshoorn.

In ’n poging om die tekort van ongeveer R175 000 te in, het Marais gesê dat hulle graag ’n Friends of the Shelter-inisiatief wil begin, waar mense ’n maandelikse bydrae aan die skuiling bewillig. Die bydrae kan in die vorm van ’n de- bietorder, verskaffing van arbeid, materiaal of dienste wees.

“Mense besef nie hoe baie ’n beloofde R100 elke maand kan beteken nie. Daardie R100 kan ongeveer 12 etes borg. Marais beklemtoon egter dat dit nie net kontantbydraes is wat belangrik is nie, maar ook enige besigheid wat hul dienste aan die skuiling op ’n vaste basis kan gee.”

“’n Taxi-maatskappy kan ’n taxi een maal per maand aan ons beskikbaar stel om die inwoners te neem of ’n loodgieter kan sy dienste beskikbaar stel as daar byvoorbeeld ’n probleem met pype is. Die idee van die Friends of the Shelter is volhoubaarheid vir die toekoms.”

Die Ithemba-skuiling is ’n nie-winsgewende organisasie en hul finansiële state is ter insae vir die publiek beskikbaar wat wil sien hoe en waar fondse aangewend word.

Enige persoon of besigheid wat daarin belang-stel om die Friends of the Shelter-inisiatief te ondersteun, kan Schalk Marais kontak by 082 389 7785 of e-pos by schalkmarais66@gmail.com.

Jan Aiford, voorsitter van die Ithemba-skuiling kan ook gekontak word by 066 320 9529 of by e-pos: oudtshoornshelterithemba@gmail.com. (Deur Lindi Brill)