
Foto: Ilze-Mari Gründling
’N VROU is twee van haar motorligte kwyt nadat dit vroeër vandag tussen 8:25 en 2:15 naby ‘n besige winkelsentrum op Oudtshoorn gesteel is.
Jannet Ferreira, wat by Chatz Connect (Vodacom) in die Queen’s Mall werk, se rooi Volkswagen was tussen die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek en Super Car Wash geparkeer toe die misligte gesteel is.
Sy sê dit moes deur die loop van die oggend gebeur het.
“Toe ek en my kollega vanmiddag om twee dorp toe wou ry, sê ’n karwag vir my dat my ligte weg is. Niemand het gesien wat gebeur nie. Dit is toe dat ek die polisie gebel het.”
Die Oudtshoorn Polisie was vinnig op die toneel en het ‘n verklaring afgeneem. (Berig deur Ilze-Mari Gründling)