Swigelaar by verskeie dienste gegroet

James Swigelaar.

James Swigelaar.

DIE begrafnis van die bekende inwoner en voormalige burgemeester van die Groter Oudtshoorn, James Swigelaar, vind op Saterdag, 4 Maart, in die Rooms-Katolieke Katedraal in Baron van Reedestraat op die dorp plaas. Die uitvaartmisbegin om 10:00.

Dit sal voorafgegaan word deur ’n huisdiens om 09:00 by Van der Merwestraat 7.

Swigelaar (70) het Dinsdagoggend by sy huis aan ’n hartaanval gesterf.

Hy was in die tagtigerjare ook lid van die parlement, en in die laaste jare baie betrokke by gemeenskapskwessies en hulp met grondeise aan mense wat as gevolg van die Groepgebiedewet verskuif is.

Verskeie ander gedenkdienste en troosbidure sal van Maandag tot Donderdag op Oudtshoorn plaasvind. Almal is welkom on dié dienste by te woon. Swigelaar se familie het die volgende program beskikbaar gestel:

Maandag (27 Februarie): Troosbiduur om 19:00 deur wyk Dominikus van die Rooms-Katolieke Kerk by die Swigelaars se huis te Van der Merwestraat.

Dinsdag (28 Februarie): Troosbiduur deur Oudtshoorn-raadslede en die Grondeisekomitee om 19:00 by die Swigelaars se huis. Alle huidige en ou-raadslede en belangstellendes welkom.

Woensdag (1 Maart): Gedenkdiens om 19:00 by die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Bridgton.

Donderdag (2 Maart): Gedenkdiens by die St Niklaas Katolieke Kerk in Impalaweg, Bridgton.

Die gesin het die week die gemeenskap bedank vir hul behulpsaamheid en die ondersteuning wat hulle ontvang.

Intussen het blyke van meegevoel van oral ingestroom.

Koos van Arkel van Oudtshoorn se tweelingstad in Nederland, Alphen aan den Rijn, het onder meer op Die Hoorn se Facebook-blad verwys na die hartlike manier waarop Swigelaar hom altyd gegroet het wanneer hy hom op Oudtshoorn raakgeloop het. Hy skryf: “Ek sal hom baie mis. Als ek op Oudtshoorn hom ontmoet, was die groet van hom altyd: Baie welkom! Die Kaap is weer Hollands!”

Die Hoorn het self hierdie hartlikheid van Swigelaar ondervind toe Schalk en Liesel le Roux in 2001 die koerant op Oudtshoorn begin het. Swigelaar, wat toe burgemeester op die dorp was, het dié nuwe onderneming op die dorp verwelkom en moeite gedoen om die eienaars tuis te laat voel op ’n vreemde dorp. Die Hoorn sal daardie warmte en vriendelikheid van James Swigelaar nooit vergeet nie.