Divan ‘Man of the Match’ in Varsity Cup-wedstryd

Divan Nel met die "Man of the Match"-tjek wat hy vir sy spel in die wedstryd tussen die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Pretoria (Tuks) ontvang het.

Divan Nel met die “Man of the Match”-tjek wat hy vir sy spel in die wedstryd tussen die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Pretoria (Tuks) ontvang het.

Divan Nel, oud-losskakel van die Struisies, is Maandag as die Speler van die Wedstryd aangewys in ’n Varsity Cup-wedstryd tussen die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Universiteit van Pretoria (UP Tuks).

Danksy ses strafdoele deur Nel, wat steeds die nr 10-trui dra, het UJ die wedstryd net-net met 18-17 gewen. Dit was UJ se eerste oorwinning in agt jaar oor UP.

Wat Nel se vertoning uitsonderlik maak, is dat hy al agttien UJ se punte aangeteken het. Hy het ses strafskoppe tussen die pale deurgejaag.

Maandag se wedstryd herinner aan 2010 se geskiedkundige Struisie-oorwinning van 22-21 oor die Kwaggas. In dié wedstryd het Divan ook ’n deurslaggewende rol gespeel in die Struisies se oorwinning van 22-21. Hy het 16 van die Struisies se punte aangeteken. Hy het kort voor die einde van die wedstryd ook die wenpunte aangeteken met ’n lang skepskop van tussen die Kwaggas se kwartlyn en die halflyn.

Divan se trotse ma, Mariane, vertel dat dit toevallig die eerste keer in 17 jaar was wat die Struisies die Kwaggas geklop het en dat Divan toe 17 jaar oud was. Divan se pa is Deon Nel.

* Divan was met 84 punte verlede jaar se voorste puntemaker in die Varsity Cup-reeks.