
Een van die daaglikse tonele in Vredestraat naby die kruising met Langenhovenweg. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
ELKE aand lê hulle in gelid op die sypaadjie in Vredestraat langs die Onderwyssentrum op Oudtshoorn; ’n groep hawelose mense wat deur inwoners herdoop is tot Oudtshoorn se sypaadjiemense.
Bedags word hul beddegoed oorkant die pad by die munisipale gebou gebêre.
Van hulle vertel dat hulle al sewe jaar lank daar woon, winter en somer.
Hulle tap water by ’n kraan langs die munisipale gebou. Op ’n vraag oor watter toiletgeriewe hulle gebruik, antwoord van die mense: “Ons stap maar af na die rivier se kant toe, en bedags as die Burgersentrum oop is, gebruik ons die geriewe binne die gebou.”
Vir vuurmaakhout stroop hulle die naaste bome om ’n vuurtjie aan die gang te kry sodat hulle koffiewater in ’n groot Ricoffy-blik kan kook. Hulle rook hulle rokie en vee selfs hulle “werf” met ’n besem of palmtak om dit aan die kant te hou!
Een van die vroue met wie Die Hoorn gepraat het se been is ’n paar jaar gelede geamputeer. Sy ontvang sedertdien ’n maatskaplike toelaag. Op ’n vraag of hulle al aansoek vir behuising gedoen het, sê een: “Ag, meneer, jy weet mos hoe dit gaan,” skouerophalend.
Inwoners sê die groep word al hoe groter en dat hulle nie kan verstaan waarom die Oudtshoorn munisipaliteit nie ’n plan met die mense maak nie. Inwoners wat Die Hoorn genader het, is bekommerd omdat die groep groei, maar ook bekommerd oor die mense se lewensomstandighede.
Die munisipaliteit het deur sy kommunikasiekantoor aangedui dat die betrokke afdeling tans aandag skenk aan Die Hoorn se navrae oor die aangeleentheid en teen die einde van die week sal reageer vir terugvoer in volgende week se uitgawe van die koerant.
Twee raadslede het egter met Die Hoorn oor die situasie gepraat.
Johan Fourie is die raadslid vir Wyk 3 en bewus van hierdie probleem. Hy het aan Die Hoorn gaan wys waar die mense hul beddegoed langs die Burgersentrum bêre en ook soms snags onder dak daar ’n slaapplek inrig.
Ook die speaker, Julia le Roux-Krowitz, sê dit is ’n baie groot probleem waarvoor die raad ’n oplossing soek. “Munisipale amptenare kan net ingevolge munisipale regulasies optree en boetes uitreik of gemeenskapsdiens oorweeg. Dit is nie ’n misdaad om op die sypaadjie te woon nie, maar eerder ’n sosiaal-maatskaplike probleem.”
Vredestraat se sypaadjiemense is nie die enigstes wat snags op plekke in Oudtshoorn slaap nie. Die walle van die Grobbelaarsrivier en begraafplase op die dorp is ook dikwels haweloses se slaapplek.