Die motor Saterdagoggend waar dit op die Kango Grotte-pad die bergwand getref het.
Motor jaag teen bergwand vas
Nooddienspersoneel moes Saterdagoggend (26/11/2016) vroeg ’n man uit ’n motor sny nadat dit naby ’n draai op die Kango Grotte-pad teen die berg langs die pad vasgejaag het.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing omstreeks 06:00 naby die Ou Tol plaasgevind.
“Slegs een voertuig was betrokke. Die bestuurder is per ambulans na die hospitaal gebring weens beserings wat hy opgedoen het. Die Polisie ondersoek ’n saak van roekelose of nalatige bestuur,” het Visser gesê.
Die man het na bewering in die rigting van die Kango Grotte gery toe hy naby die Ou Tol beheer oor sy motor verloor het.
Nadia Ferreira, kommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid in Eden, het bevestig dat die bestuurder in die Oudtshoorn Hospitaal vir frakture en snye behandel is.
Hy is gister na die George Hospitaal oorgeplaas vir verdere behandeling, het sy gesê.
Mike Lombard van Oudtshoorn, wat deel was van ’n groep fietsryers wat die oggend op die pad was, het aan Die Hoorn vertel dat hulle net ná die botsing op die toneel aangekom het. Die bestuurder was nog in sy motor.
Volgens Lombard was hulle baie dankbaar dat hulle nie op die pad was toe die bestuurder beheer oor die motor verloor het nie.
(Liesel le Roux en Stefan Goosen)