Golf ry Telkompale vroegoggend disnis

Foto: Heinrich Bosman

Foto: Heinrich Bosman

Só is die een Telkom-paal in St Saviourstraat, Oudtshoorn Sondagoggend vroeg naby die Indraf Kafee uit die grond gebreek toe dit deur die Golf getref is.             


Golf ry Telkompale vroegoggend disnis

Die Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n klag van roekelose of nalatige bestuur nadat ’n man vroeg Sondag­oggend (26/11/2016) ’n Telkompaal buite die Indraf Kafee op Oudtshoorn platgery het.

Hy het beheer oor sy motor verloor en toe die paal getref. Dié paal het nog twee pale omgetrek.

Sers Gretchen Michaels, woord­voerder van die Oudtshoorn Polisie, het bevestig dat die be­stuurder van ’n wit Volkswagen Golf Sondagoggend omstreeks 04:00 beheer oor sy motor verloor en teen ’n Telkompaal in St Saviourstraat gebots het. “Niemand is in die voorval beseer nie,” het Michaels gesê.

Die bestuurder se naam is aan Die Hoorn bekend.

’n Inwoner van die straat wat drie huise van Indraf af bly, Heinrich Bosman, is deur die slag wakker gemaak. “Met die slag het byna almal in die straat buitentoe gegaan. Toe ek daar kom, het die Golf wydsbeen oor die Telkompaal op die sypaadjie gestaan, en het die bestuurder sy voertuig van die paal af probeer kry.

“Die botsing het ’n kettingreaksie veroorsaak wat twee ander pale omgetrek het,” het Bosman vertel.

Volgens hom was daar reeds poli-sie-beamptes op die toneel en het hy self Telkom gebel om die skade aan die pale aan te meld.

“Die drade het oor die pad gelê en hulle moes dit kom verwyder. ’n Munisipale voertuig het ook later die pale uit die pad kom skuif,” het hy gesê.

Bosman sê van die ander inwoners in die straat sê dit het gelyk of die be­stuurder en sy passa­siers onder die invloed van drank was.

Inwoners in daardie omgewing kla gereeld oor voertuie wat op en af in die straat jaag.

Anton Koen, eienaar van Indraf Kafee, het aan Die Hoorn gesê hy het vroeër die aand ’n voertuig gehoor wat “hard” in die straat gery het.

“Ons het ook die slag gehoor, maar ek het nie buitentoe gegaan nie. Daar is gelukkig geen skade aan my winkel nie, behalwe dat ek nou nog geen landlynoproepe kan maak of ontvang nie. My WiFi is ook daardeur geraak.”

Volgens Koen het Telkom wel intussen per sms met hom gekommunikeer oor die herstel van die fout op sy lyn.

 

(Deur Stefan Skapie Goosen)