
Sowat 50 modelvliegtuigentoesiaste het die naweek op Oudtshoorn toegesak vir die jaarlikse Oudtshoorn skaalmodelbyeenkoms. Daar was meer as 60 verskillende modelvliegtuie wat deur die drie dae in die lugruim bokant die Oudtshoorn-lughawe gewys het wat in hulle en in hulle vlieëniers steek. Met goeie weersomstandighede kon die vlieëniers hulle gate uit geniet.
Vanjaar se byeenkoms was die 52ste keer dat dit in Oudtshoorn aangebied is. Vroeër was slegs vliegtuie toegelaat wat skaalmodelle van oorspronklike vliegtuie was, maar die organiseerders het vanjaar alle vliegtuie toegelaat wat beteken dat vliegtuie wat self ontwerp is, ook kon deelneem.
Drie Oudsthoorniete het pryse ingepalm: Divan Fourie (8) het die prys gewen vir die jongste modelvliegtuigvlieënier, met sy Carbon Cub-vliegtuig met ’n vlerkspan van twee meter.
Gideon de Villiers het met sy skaalmodel van ’n L39 vegvliegtuig die prys gewen vir Scale Flight. Dit word toegeken aan die vliegtuig wat dieselfde maneuvers as die oorspronklike vliegtuig in vlug kan uitvoer.
Die Hoorn se mede-eienaar, Jaco Erasmus, se replika van ’n Tiger Moth wat in die Tweede Wêreldoorlog gebruik was, is as die beste dubbelvlerkvliegtuig aangewys. (Angelique Erasmus)