Met klippe bestook

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n klagte van kwaadwillige saakbeskadiging nadat straatkinders die eienaars van Jasmyn Bloemiste Dinsdagoggend met klip­pe en bakstene bestook het.

Volgens sers Gretchen Michaels, woord­­­voerder van die Oudtshoorn Po­lisie, het die voorval om 06:45 in Olivierstraat net buite Jasmyn Bloemiste en aan­grensend tot Checkers-plein plaasgevind.

Toe die eienaar van Jasmyn Bloemiste, Mariena Naudé, en haar man, Org, die oggend vroeg by die winkel kom, het hulle ’n groep van 30 mense, insluitend kinders, op hul winkel se stoep sien slaap. Volgens Mariena het die kinders hulle met klippe en bakstene begin gooi toe haar man hulle verjaag het. Skade van sowat R1 000 is aan die mure van die winkel aangerig.

Mariena sê hulle het die polisie ontbied en dat die polisie later van die kinders in Hoogstraat aangekeer het.

“Die probleem is dat die meeste kin­ders minderjarig is. Hoe verdedig jy jouself teen gewelddadige kinders? My vrou is al met ’n mes gedreig deur die straat­kinders en daar is al ingebreek, maar ons mag niks doen om onsself te verdedig nie,” het Org gesê.

Ook elders in Oudtshoorn groei kommer oor die optrede van straatkinders.

Janet Belstead van Cali-Craft and Gems in Baron van Reedestraat sê hulle moes spesiaal ’n sekuriteitswag aanstel om hul besigheid te beskerm.

“Hierdie probleem beïnvloed die hele dorp. Die straatkinders het ons kliënte weg­gejaag. Nou met die sekuriteitswag is die probleem nie opgelos nie, maar beter.”

David Harris, bestuurder van Leadermans, glo dat mense moet saamstaan om die probleem op te los.

“Dit sal lank vat, maar as elke persoon – hetsy besigheidseienaar, lede van die sakekern of belastingbetaler – hul kant bring, sal verandering plaasvind. Ons het in ’n stadium wagte aangestel en dit het die situasie verbeter.”

Chantelle Terblanche, mede-eienaar van Leadermans, sê hoewel dit tans beter gaan by hul winkel, bly die kinders op straat ’n probleem.

“Ons het voorvalle gehad met mense wat ons aangespreek het, dan sny hul ons motorbande. As ek in die aand die winkel sluit, kan ek nie na my kar toe stap sonder dat een van die kinders of mans vir my fluit en lelike dinge sê nie. Ek kan niks doen nie, want ’n mens weet nie waartoe hulle in staat is nie.”

Volgens Franzu Badenhorst, direkteur Famsa Karoo, bly kinders op straat omdat hulle in ’n mate “beloon” word. “Kinders bedel op straat. Hulle kry geld, kos en klere en sien dit as ’n beloning.”

Billy Engelbrecht, voorsitter van Oudts­­hoorn en De Rust Toerisme, sê mense moet besef daar is nie eenvoudige antwoorde nie omdat minderjarige kinders betrokke is. “Die toerismekantoor werk saam met die munisipaliteit, polisie en die welsyn. Volgens wet is daar egter net soveel wat jy mag doen.”
Toerisme staan ’n beleid van “Dink voordat jy gee” voor en deel pamflette uit waarin hulle toeriste en inwoners aanmoedig om nie geld aan kinders op straat te gee nie omdat jy daardeur ’n alkohol- of dwelmgewoonte ondersteun en hulle aanmoedig om op straat te bly.

Jaco Vorster, eienaar van Oudtshoorn-Wes Handels­huis, loods ook binnekort saam met Toerisme ’n projek waarby haweloses en straatkinders kan baat. Inwoners en toeriste sal ’n koepon – dit is een brood werd – kan koop om vir mense wat hulle jammer kry te gee. “In plaas daarvan om geld te gee, kan hulle eerder ’n koepon gee wat geruil kan word vir ’n brood. Die grootste rede hoekom kinders op straat bly, is omdat mense hulle geld gee. Die koepon bied ’n ander manier om die kinders te help.”