Moord in eens veilige woongebied ruk gemeenskap

Magnus van Wyk (30).

Magnus van Wyk (30).

Deur Ilze-Mari Gründling
’N HEGTE gesin is die afgelope naweek ver­skeur en ’n gemeenskap in woede nadat ’n jong man van Toekomsrus in Oudtshoorn, Magnus van Wyk (30), Sondag helder oordag buite vriende se huis dood­gesteek is.

Van Wyk is volgens sy broer, Godvine Meyer, wreed vermoor.

“Ons is nie eens seker hoeveel keer hy met die mes gesteek is nie. Teen sy slaap, sy kop, nek en bors… Hy is veral op sy hande gesteek soos hy probeer keer het. Daar was verskriklik baie bloed.”

Die Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n klagte van moord en het reeds Maandag ’n man, Claud Serfontein (23), in hegtenis geneem. Hy is tans in aanhouding en moet weer op 16 Maart in die hof verskyn.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voorval omstreeks 11:15 in Stuurmanstraat in ­Toekom­s­­­­­rus plaasgevind.

Berenice Swatii, ’n vriendin van Van Wyk, vertel dat hy Sondagog­gend by hulle huis gekuier het.

“Magnus het net na 10:00 by my aangekom. So net voor elf was hy by die druiweprieël agter in ons tuin. Ek was besig om wasgoed te was toe ek sien iemand klim oor die heining en beweeg agtertoe. Toe ek Magnus hoor skree, het ek agtertoe gehardloop en gesien dat ’n man hom steek. Ek het vir hom ge­skree om te stop, maar hy wou nie. Hy het net aangehou. Ek het begin om hom met te klippe gooi – toe hardloop hy weg.”

Van Wyk is per privaat-voertuig na die Oudtshoorn Hospitaal gehaas, en dieselfde dag nog na die George Hospitaal oorgeplaas waar hy in die hoësorgeenheid opgeneem is. Hy is Maandagoggend oorlede.

Meyer beskryf sy broer as ’n stil en rustige mens, en dat ander na hom opgekyk het. “Mense het altyd na hom toe gegaan vir raad. Hy wou altyd almal help. Hy het op sy eie manier ’n hart vir ander gehad.”

Hy vertel dat Van Wyk graag vir homself werk. “Hy wou graag sy eie ding doen, veral met sy kuns. Hy kon baie mooi teken. Hy was ook baie lief vir lees. Ons is geskok oor wat gebeur het. Ons klein gesin is baie na aan mekaar. Albei ons ouers is binne die laaste drie jaar oorlede, en nou Magnus.”

Van Wyk het drie broers en twee susters, Godvine, Jonathan, Riaan, Juanita en Leona Meyer. Van Wyk het sy ma se nooiensvan gehad.

Volgens inwoners van Toekoms­rus het ’n jong man al van Vrydagaand gedreig om Van Wyk te vermoor.

“Hy loop al die hele naweek rond en sê vir almal dat hy hom met ’n mes sal steek. Ons is nie seker hoe­kom nie; daar was blykbaar ’n stoei­ery tussen hulle op Vrydag. Die Toe­komsrus-gemeenskap is diep geruk en geskok oor wat gebeur het,” het ’n inwoner aan Die Hoorn gesê.

Verskeie inwoners het teenoor Die Hoorn hul kommer uitgespreek oor bendebedrywighede in Toekomsrus, en hoe die eens rustige woonbuurt die afgelope jare verander het.

Bewerings is ook geopper dat hy deel is van ’n bende, naamlik die Blur-Blur bende.

Volgens sers Gretchen Michaels is daar baie lede van hierdie bende. “Ons sukkel om hulle in die hande te kry. Die gemeenskap is onwillig om genoeg informasie aan die polisie te verskaf en dit maak dit moeilik om hulle te vervolg. Daar is baie klagtes van aanranding, diefstal en geweldadige voorvalle.”