Maak leë erwe skoon en gee dorp sy trots terug

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het die afgelope week inwoners versoek om leë ruimtes en erwe op die dorp op te ruim en skoon te maak. So kan inwoners ’n bydrae lewer om die dorp se beeld en waardigheid te herstel.

“Die munisipaliteit is oorval met klagtes oor die toestand van eiendomme.
“Dit is nie net iets wat inwoners pla nie, maar dit pla ook toeriste,” sê burgemeester Colan Sylvester.
Volgens Sylvester behoort die leë erwe, wat regoor die Groter Oudtshoorn versprei is, aan private eienaars, aan die nasionale en provinsiale regerings en aan die munisipale raad.

Hy sê die munisipaliteit het die afgelope paar maande alle oop ruimtes in die Groter Oudtshoorn begin skoonmaak om ’n goeie en netjiese beeld van die dorp na buite te skep.

Tans is die munisipaliteit besig met ’n proses om vuil erwe en ruimtes te identifiseer en dan kennisgewings aan eie­naars te stuur met die versoek dat dit binne twee weke vanaf die datum van ontvangs skoongemaak moet word.

Indien die eienaar versuim om dit te doen, sal die erf óf oop ruimte deur munisipale werkers en/of privaat kontrakteurs skoongemaak word. Die eienaar sal op sy munisipale rekening vir die koste daarvan aangeslaan word.

“Dit is tot die voordeel van die Groter Oudtshoorn as oop ruimtes en erwe netjies en skoon gehou word sodat ons dorp se natuurlike skoonheid en waardigheid na vore kan kom,” het Sylvester gesê.