Kragpryse styg met 977% sedert 2007: Nuwe plan op die tafel

Suid-Afrikaners wat toenemend onder hoë elektrisiteitskoste gebuk gaan, kan moontlik in die toekoms ’n duideliker prentjie kry van wat hulle vir krag gaan betaal, terwyl betalende verbruikers ook beter beskerm kan word teen die koste van ander se onbetaalde skuld.

Dit vorm deel van die regering se Hersiene Elektrisiteitsprysbeleid, wat daarop gemik is om die koste van elektrisiteit te verlaag en groter deursigtigheid in die vasstelling van tariewe te bring. Die Kabinet het die beleid verlede maand vir openbare kommentaar goedgekeur.

Volgens dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, het elektrisiteitstariewe sedert 2007 met sowat 977% gestyg. Die hersiene beleid vervang die bestaande beleid van 2008 en neem die groot veranderinge wat sedertdien in Suid-Afrika se elektrisiteitsbedryf plaasgevind het, in ag.

Weet vooraf wat krag kan kos

Een van die belangrikste voorstelle is dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) verplig sal word om ’n 10-jaar-prysvooruitskatting vir elektrisiteit te publiseer.

Dit sal huishoudings en ondernemings ’n beter aanduiding gee van hoe elektrisiteitspryse oor die langer termyn kan ontwikkel. Vir groot ondernemings wat baie elektrisiteit gebruik, kan dit veral belangrik wees wanneer toekomstige beleggings en bedryfskoste bereken word.

Die beleid beoog ook meer deursigtige en doeltreffende tariewe wat die werklike koste van elektrisiteitsvoorsiening weerspieël en moet help voorkom dat versteekte of onnodige koste by tariewe gevoeg word.

Betalende verbruikers moet nie ander se skuld dra nie

Nog ’n belangrike verandering raak munisipale en ander uitstaande elektrisiteitskuld.

Ramokgopa sê tussen ongeveer 1% en 2,5% van die tarief wat verbruikers tans betaal, kan verband hou met geld wat Eskom nie kan verhaal nie. Munisipaliteite wat self groot bedrae deur verbruikers geskuld word, kan dié verliese ook in hul koste van voorsiening verreken.

Dit plaas volgens die minister verdere druk op verbruikers wat hul rekeninge getrou betaal.

Ingevolge die voorgestelde beleid sal dié praktyk nie toegelaat word nie. Daar sal eerder opgetree moet word teen verbruikers wat nie betaal nie, asook teen onwettige elektrisiteitsaansluitings.

Meer mededinging in elektriteitsmark

Die regering wil terselfdertyd die elektrisiteitsmark verder vir mededinging oopstel en wegbeweeg van ’n stelsel waarin Eskom feitlik die enigste groot rolspeler is.

Nuwe kragopwekkers sal toenemend elektrisiteit kan lewer en produsente en groot kopers sal onder bepaalde omstandighede direk ooreenkomste met mekaar kan aangaan.

Suid-Afrika beweeg daarmee geleidelik na ’n groothandel-elektrisiteitsmark. Die regering hoop dat groter mededinging en meer doeltreffende elektrisiteitsverskaffers uiteindelik ook druk op pryse sal verminder.

Gratis basiese elektrisiteit

Die stelsel vir gratis basiese elektrisiteit aan behoeftige huishoudings gaan ook hersien en gemoderniseer word.

Die regering beplan ’n sentrale, nasionaal toeganklike databasis vir gratis basiese elektrisiteit wat met bestaande data van onder meer Binnelandse Sake en die maatskaplike-toelaestelsel geïntegreer kan word.

Dit behoort dit makliker te maak om huishoudings wat vir gratis basiese elektrisiteit kwalifiseer, te identifiseer en te verseker dat die voordeel die mense bereik vir wie dit bedoel is.

Die beleid maak verder voorsiening vir onderhandelde elektrisiteitspryse vir sekere energie-intensiewe bedrywe. Dit sal nie meer noodwendig beperk wees tot ondernemings wat reeds in finansiële nood verkeer nie, maar kan ook gebruik word om groei en werkskepping in prioriteitsektore aan te moedig.

Die hersiene beleid is nog nie finaal nie. Dit is vir openbare kommentaar goedgekeur en sal, wanneer dit aanvaar word, die raamwerk vorm waarbinne Nersa, Eskom, munisipaliteite en ander rolspelers elektrisiteitspryse en -tariewe hanteer.

Wat word voorgestel?Wat beteken dit?
10-jaar-prysvooruitskattingNersa moet ’n aanduiding gee van die verwagte elektrisiteitsprys oor die volgende dekade.
Meer mededingingNuwe kragopwekkers en kopers kan direk ooreenkomste aangaan; die mark word minder Eskom-gesentreerd.
Onbetaalde skuldDie beleid wil keer dat verliese weens wanbetaling bloot na betalende verbruikers deurgegee word.
Gratis basiese elektrisiteit’n Nasionale databasis word beoog om kwalifiserende huishoudings beter te identifiseer.
Duideliker tarieweKoste vir onder meer opwekking, transmissie, verspreiding en kleinhandel moet deursigtiger uiteengesit word.

Lees ook:

Nuwe wetgewing teiken onstabiliteit in munisipale rade

Kontantlose toekoms? Raad kyk na nuwe betaalstelsels

Mag winkels ekstra geld vra wanneer jy koopkrag koop?

Be the first to comment on "Kragpryse styg met 977% sedert 2007: Nuwe plan op die tafel"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*