Inwoners het die afgelope tyd vrae gevra oor winkels en spaza-winkels wat ’n ekstra fooi hef wanneer voorafbetaalde elektrisiteit gekoop word.
In sommige gevalle vra ’n klant byvoorbeeld vir R100 se koopkrag, maar moet R102 of R105 betaal. Ander inwoners betaal R100, maar ontdek op die strokie dat ’n kleiner bedrag vir die elektrisiteit gebruik is.
Koopkrag by die munisipaliteit
Wanneer koopkrag direk by die munisipaliteit gekoop word, word die aantal eenhede volgens die munisipaliteit se goedgekeurde elektrisiteitstarief bereken. Die hoeveelheid eenhede wat ’n inwoner ontvang, kan verskil na gelang van die tariefkategorie en hoeveel elektrisiteit reeds gedurende daardie maand gekoop is.
Die koopkragstrokie moet duidelik aandui hoeveel geld vir elektrisiteit gebruik is en hoeveel eenhede die inwoner ontvang het.
Koopkrag by winkels en spaza-winkels
Winkels en spaza-winkels bied ’n gerieflike diens omdat inwoners dikwels koopkrag daar kan koop wanneer munisipale kantore gesluit is.
’n Winkel mag egter nie self die munisipaliteit se elektrisiteitstarief verander of voorgee dat ’n ekstra winkelheffing deel van die munisipale tarief is nie.
Indien ’n winkel ’n afsonderlike diens- of transaksiefooi hef, moet die klant vóór die aankoop daarvan ingelig word. Die fooi moet ook apart van die koopkragbedrag aangedui word.
Indien ’n klant R100 se koopkrag versoek en die winkel R105 vra, behoort die winkel vooraf te verduidelik dat R5 ’n diensfooi is.
Die volle R100 moet dan vir die elektrisiteitsaankoop gebruik word, tensy ’n ander geldige aftrekking duidelik op die strokie aangedui word. ’n Fooi behoort nie stilweg van die koopkragbedrag afgetrek te word sonder dat die klant daarvan weet nie.
Kyk altyd na die strokie
Inwoners moet hul strokies bewaar en seker maak dat dit die volgende aandui:
• die totale bedrag wat betaal is;
• die bedrag wat vir elektrisiteit gebruik is;
• die aantal eenhede wat ontvang is; en
• enige afsonderlike diens- of transaksiefooi.
Indien ’n inwoner R100 betaal het, maar die strokie wys dat slegs R95 vir koopkrag gebruik is, moet die winkel kan verduidelik wat met die ander R5 gebeur het.
Waar kan onnodige fooie aangemeld word?
Inwoners wat vermoed dat ’n winkel of spaza-winkel ’n ongemagtigde of versteekte fooi hef, moet die strokie bewaar en, indien moontlik, ’n foto neem van enige kennisgewing oor die fooi.
Die klagte moet eerstens by die winkelbestuurder aangemeld word. Indien dit nie opgelos word nie, kan inwoners die Oudtshoorn Munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling by 044 203 3159 kontak om te bevestig of die fooi toegelaat word en of die korrekte bedrag koopkrag uitgereik is.
Klagtes oor ’n winkel wat ’n fooi wegsteek of ’n klant nie vooraf daarvan inlig nie, kan ook by die Verbruikersgoedere- en Dienste-ombud aangemeld word by 0860 000 272 of per Whats-App by 081 335 3005. Verbruikers kan ook die Nasionale Verbruikerskommissie by 012 065 1940 kontak. Hulle moet hul strokie, besonderhede van die winkel en die stappe wat reeds gedoen is om die probleem op te los, beskikbaar hê.
Indien die klagte oor die munisipale elektrisiteitstarief of die hoeveelheid elektrisiteitseenhede handel en nie plaaslik opgelos kan word nie, kan NERSA by 012 401 4600 gekontak word. Formele klagtes kan ook aan complaints@nersa.org.za gestuur word.
Die kern is eenvoudig: enige ekstra winkel of diensfooi moet vooraf duidelik aan die klant bekendgemaak word.
’n Winkel of spaza-winkel mag nie ’n fooi wegsteek, die munisipale tarief verander of sonder verduideliking geld van die koopkragbedrag aftrek nie. (ANGELIQUE ERASMUS)
Mag winkels ekstra geld vra wanneer jy koopkrag koop?
’n Kennisgewing met kontakbesonderhede waar klagtes aangemeld kan word. Foto: Facebook
Be the first to comment on "Mag winkels ekstra geld vra wanneer jy koopkrag koop?"