Die Oudtshoorn-egpaar Melanie en Bert Verlinde het hul persoonlike beste tyd opgestel tydens hul eerste deelname aan die HYROX Wêreldkampioenskap in Stockholm, Swede.
Die egpaar, eienaars van Black Mountain CrossFit in Oudtshoorn, het in die Mixed Doubles 40–44-afdeling deelgeneem.
“Dis ’n groot eer en voorreg om jou land te verteenwoordig,” sê Melanie. Sy beskryf hul eerste wêreldkampioenskap as ’n wonderlike ervaring en sê dit was besonders om saam met die wêreld se top HYROX-atlete te kon meeding.
“Ons was baie tevrede met ons wedloop en tyd. Ons was in staat om ons persoonlike beste tyd van 1:03:48 op te stel in Stockholm.”
Die grootste uitdaging was om met vlugvoosheid (jet lag) aan die kompetisie deel te neem. Melanie het boonop min tyd vir HYROX-spesifieke voorbereiding gehad nadat sy slegs ’n maand tevore aan die CrossFit Games Africa-halfeindronde in Johannesburg deelgeneem het.
Hoewel hulle regdeur die jaar oefen, het hulle in die aanloop tot die wêreldkampioenskap ekstra aandag aan hul hardloopvermoë gegee.
“Ons glo in ’n leefstyl van gesond en fiks wees, so ons oefen regdeur die jaar. Bert se kondisionering deur fietsry en my CrossFit-agtergrond het ons in staat gestel om reeds fiks en sterk in HYROX in te gaan.”
Vir die Verlindes was voorbereiding nooit ’n opoffering nie.
“Ons sien dit nie as opofferings nie, maar as ’n voorreg en vreugde om gesond te kan wees, sodat ons daagliks kan oefen en fiks kan wees.”
Die Verlindes het in 2025 meer oor HYROX begin leer en het toe ook weeklikse Hybrid Training-sessies by Black Mountain CrossFit deel van hul program gemaak.
Hulle eerste HYROX-kompetisie was in Kaapstad in Julie 2025, waar hulle vir die wêreldkampioenskap gekwalifiseer het. Daarna het hulle ook in Johannesburg deelgeneem voordat hulle na Stockholm vertrek het.
Melanie verduidelik dat HYROX en CrossFit ooreen-komste het, maar dat dit verskillende dissiplines is.
“HYROX bestaan uit een vasgestelde oefenreeks wat reg oor die wêreld dieselfde is, terwyl CrossFit uit gevarieerde oefen-sessies bestaan wat onder meer Olimpiese gewigoptel en gimnastiekbewegings insluit.”
By Black Mountain CrossFit, sê sy, is hulle dankbaar vir die ondersteuning wat hulle van hul lede ontvang.
“By Black Mountain CrossFit is ons ’n hegte gemeenskap en ons waardeer altyd almal se ondersteuning tydens voorbereiding en deelname.”
Melanie, wat ’n biokinetikus is en oor agt jaar se ervaring in CrossFit en funksionele oefening beskik, sê hul doel is om mense op elke vlak van hul fiksheidsreis te ondersteun.
“Ons bou die fondasie met die nodige ondersteuning en kundigheid. Of jy net begin of reeds ’n atleet is, ons ontmoet jou waar jy is en help jou verder verbeter.”
Haar raad aan jong atlete wat daarvan droom om internasionaal mee te ding, is eenvoudig: “As jy bereid is om hard te werk, sal jy sukses behaal. En dis belangrik dat jy altyd geniet wat jy doen.”
Hul eerste HYROX Wêreldkampioenskap sal die Verlindes lank bybly.
Die egpaar het nog geen definitiewe planne vir hul volgende internasionale kompetisie nie, maar sê dit sal lekker wees om weer internasionaal deel te neem. (MALISSA SPIES)


Be the first to comment on "Verlindes meet kragte met die wêreld se beste"