Die Oudtshoorniet, Peet Vermaak, se tweede digbundel is pas vrygestel. Vermaak sê hierdie bundel se wortels is vier jaar gelede geskiet toe sy ouers in 2020 binne drie dae na mekaar oorlede is.
“Dit was vir my en my vrou ’n geweldige traumatiese tyd en iemand het vir my ’n boek gegee en gesê ek moet my gedagtes neerskryf.”
Hy was op daardie stadium reeds besig met ander skryfprojekte, maar hy sê die gedigte wat almal spiritueel is, het eenvoudig net begin vloei en die eindproduk is Stemme uit die Hemel wat pas verskyn het. Sy eerste digbundel, Kambroo-kind, het in 2019 verskyn.
“Digkuns en skryfwerk is vir my veel meer as ’n stokperdjie, dit is ’n passie en ’n liefde vir my omgewing, my mense en my Skepper, wat ek elke dag moet uitleef.” Sy digbundel se sentrale tema is die verwerking van verlies as geliefdes sterf en ook die oorwinning wat volg. “Ek hoop regtig dat mense wat verlies en uitdagings ervaar iewers tussen hierdie gedigte van my ’n stukkie hoop en bemoediging sal vind.”
Peet en sy vrou, Maureen, ken uitdagings. Maureen is na maande se ondersoeke en verskeie hospitaalopnames met ’n seldsame neurologiese siekte gediagnoseer wat die paartjie elke dag moet bestuur. Peet is reeds 23 jaar in diens van Wilgewandel en sê die feit dat hy elke dag in die natuurskoon kan uitry werk toe inspireer hom.
Sy derde boek wat gedigte en kort stukkie oor die Karoo bevat, verskyn in November. Peet sê sy skryfwerk het reeds in 2000 begin en stelselmatig ontwikkel.
“Skryf is deel van my lewe, ek sal nie sonder dit oor die weg kan kom nie,” sê hy. Vir verdere navrae oor sy skryfwerk en bundel, kontak Peet by 071 057 0636.
(Die Hoorn hoor graag van inwoners wat buiten hulle daaglikse werk, ’n stokperdjie beoefen en ’n passie uitleef. As jy ’n interessante stokperdjie of tydverdryf het, laat weet ons asseblief by 083 467 1522 of per e-pos by editor@hoorn.co.za). (HANNES VISSER)
Klein Karoo-digter wil bemoedig
