DIE eerste volskaalse Virtuele Galery van die KKNK open Woensdag (24 Junie 2020) sy deure aanlyn op www.kknk.co.za!
“Ons is ongelooflik opgewonde om die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se heel eerste Virtuele Kunsgalery bekend te stel. Kunsliefhebbers van regoor die wêreld het hier die geleentheid om die fees se visuele kunsuitstallings te beleef,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
Volgens Theart het die fees oor die afgelope twee dekades ’n reputasie vir uitsonderlike kunsuitstallings opgebou en het hulle vanjaar ’n virtuele sprong gemaak.
“Die feit dat ons vanjaar se KKNK weens die Covid-19-pandemie moes kanselleer, is steeds ’n groot teleurstelling, maar ons sien uit na hierdie nuwe en opwindende digitale ervaring.
“Dié inisiatief skep ’n belangrike platform vir visuele kunstenaars om hulle werk te verkoop en sodoende ’n inkomste te genereer met werk wat geskep is vir vanjaar se KKNK.”
Dineke van der Walt, die KKNK se nuwe visuele kunskurator, het vanjaar se program met die tema Plat op die aarde saamgestel.
“Feesgangers, kunsliefhebbers en -versamelaars kan deur die digitale gange van ons visuele kunsprogram stap en die 11 uitstallings in die gemak van hulle huise besigtig. Die uitstalling sluit werke van 45 kunstenaars met meer as 200 werke in,” sê sy.
Volgens Van der Walt is daar opwindende uitstallings van talentvolle jong kurators soos Amé Bell, Tammy Langtry, Tlotlo Lobelo en Suen Muller.
Kunstenaars sluit in Usha Seejarim, Lisl Barry, Manyaku Mashilo, Strijdom van der Merwe, Heidi Fourie, Linda Ballen, Zhi Zulu, Olivia Botha, Ronél de Jager, JP Hanekom, Keneilwe Mokoena, Maryna Cotton, Sarel van Staden, Owen Claassen, Vincent Osemwegie en Nanette Ranger; asook ’n saamgestelde uitstalling van Jenna Burchell, Jaco van Schalkwyk en Wayne Matthews.
Kunswerke van drie jong kunstenaars uit Oudtshoorn, Colin Meyer, Zietske Saaiman en Earlyn Cloud, word deur die Absa Galery aangebied.
’n Hoogtepunt is die retrospektiewe uitstalling van vanjaar se feeskunstenaar, Barbara Wildenboer.
Volgens Theart is hierdie die eerste van verskeie uitstallings. “Ons glo dat hierdie ’n KKNK-instelling gaan word, wat nie net waarde vir ons ondersteuners toevoeg nie, maar ook meer geleenthede vir die visuele kunste in die toekoms skep.”