Sylvester bedank ná skuldigbevinding

DIE DA het reeds met ’n proses begin om ’n nuwe burgemeester vir Oudtshoorn aan te stel nadat Colan Sylvester verlede Dinsdag (9 Junie 2020) uit die party en dus as burgemeester bedank het.

Sylvester se lidmaatskap van die DA is twee dae later, op Donderdag 11 Junie, beëindig toe ’n brief in dié verband op hom bedien is. Hy is 24 uur ge-gun om sy kantoor te ontruim.

Volgens Eleanor Bouw-Spies, kiesafdelingshoof van Oudts-hoorn, bepaal die DA se grondwet dat iemand sy lidmaatskap van die party verloor wanneer hy of sy in die openbaar sy bedanking of voorneme om te bedank bekend maak.

Sylvester se bedanking het gevolg nadat hy deur die DA skuldig bevind is op verskeie aanklagte tydens ’n interne tugverhoor van die party wat langer as ’n jaar geduur het.

Spies sê die DA het maande lank probeer om die tugverhoor af te handel, maar dat Sylvester die proses by verskeie geleenthede probeer uitstel het.

“Oudtshoorn het die afgelope twee jaar onder hierdie onsekerheid en onstabiliteit gely. Die DA op Oudtshoorn verwelkom die geleentheid om weer op te bou wat afgebreek is. Ons sien uit na ver­nuwing en verandering en die geleentheid om terug te keer na ’n omgewing van verantwoordbaarheid en effektiewe leierskap.”

Skuldig op dié klagtes
Volgens die DA is Sylvester op die volgende klagtes skuldig bevind:
• Doelbewuste pogings om Allen Paulse, munisipale bestuurder van Oudtshoorn, se pogings tot finansiële beheer te frustreer;

• Pogings om Paulse te verhinder om finansiële stabiliteit en samehorigheid in die Oudtshoorn Munisipaliteit te bewerkstellig;

• Die skep van ’n giftige werksomgewing waar­binne kommunikasie en vertroue vernietig is, en wat die munisipale bestuurder se werksprestasie, gesondheid en persoonlike lewe beïnvloed het;

• Versuim om as burgemeester die leiding te neem en samewerking tussen die politici en amp­tenare binne die munisipaliteit te bewerkstellig;

• Veroorsaking van verdeeldheid binne die Oudtshoorn DA-koukus wat daartoe gelei het dat vier DA-wyke in 2019 se nasionale verkiesing verloor is;

• Belê van verskeie private koukusvergaderings waarby sekere raadslede doelbewus uitgesluit is;

• Uitsluitende, belemmerende en verdelende optrede tussen amptenare en raadslede asook die versuim om die korrekte prosedure te volg by die aan-stelling van diensverskaffers en uitgawe van munisipale fondse;

• Die skep van ’n atmosfeer van verdeeldheid, wrywing en wantroue binne die kantoor van die munisipale bestuurder deur die ignorering van wetgewing ra-kende plaaslike regering;

• Optrede in stryd met die DA-grondwet deur gesag nie te erken nie, in te meng in die administrasie van die munisipaliteit en burgemeesters-komiteelede aan te moedig om dieselfde te doen;

• Inmenging en weiering om by verskillende munisipale projekte betrokke te raak;

• Versuim om op te tree met betrekking tot ’n ooraanbod van personeel in die Departement Strategiese Dienste deur onreëlmatige en onbehoorlike beskermingsmaatreëls.

Spanning, verdeeldheid
Sylvester se bedanking volg ná digby twee jaar se intense spanning tussen hom en die munisipale bestuurder (Paul­se). Dit het gelei tot spanning tussen DA-raadslede onderling en ver­deeldheid binne die munisipaliteit.

Die spanning het oënskynlik sy oorsprong gehad toe Paulse in 2018 twee tydelike personeellede in Sylvester se kantoor afgedank het – die kantoorbestuurder, Elrico van Rooyen, en Deon Britz wat verantwoordelik was vir skakeling/kommunikasie.

Sylvester het nie die afgelope agt dae op Die Hoorn se telefoniese en teksnavrae na sy selfoon oor sy bedanking gereageer nie.



DA vra aansoeke vir burgemeesterspos
Die DA se Federale Raad het intussen die vakante pos van die burgemeester vir die Groter Oudtshoorn binne die party geadverteer. ’n Aansoeker moet ’n lid van die DA wees en kan tot 21 Junie 2020 die nodige dokumente aanlyn indien. (Deur Liesel le Roux)