Ons krieketsterre vereer!

Micaela Andrews, Lleyton Avontuur

Krieketspelers van Oudtshoorn het Vrydag (19 Junie) hul dorp se naam hoog gehou deur agttien toekennings by SWD Krie­ket se jaarlikse prysuitdeling in te palm.

Prestasies van die 2019/2020-seisoen is in aanmerking geneem vir die toekennings. Weens die Covid-19-pandemie is die toekenningsgeleentheid virtueel aan-gebied.

Micaela Andrews van Union Stars is aangewys as SWD Vrouespeler van die Seisoen. (Sy was verlede jaar Oudtshoorn se Senior Sportvrou van die Jaar.)
Sy het met ’n gemiddeld van 46,75 lo­pies die sesde meeste lopies in Krieket SA se beperkte boulbeurtreeks behaal. Haar beste telling was 117 lo­pies.
Andrews is ook gekies vir Krieket SA se T20 Superreeks.

Sy het met 243 lopies teen ’n gemiddeld van 49 per wedstryd die meeste lo­pies in die SWD Vroueliga aangeteken, asook die meeste lopies in die T20 Vroue- liga. Voorts het sy ’n belangrike bydrae as bouler gelewer.

Ander Oudtshoorniete wat vereer is, is:
• Envirino Swartz van Union Stars- krieketspan wat as die T20-speler van die Seisoen aangewys is vir sy uitmuntende boulwerk. Hy het ook die toekenning ontvang vir die meeste paaltjies geneem in die T20-liga;

• Bradley Manewill wat as Intelektueel Gestremde Speler van die Seisoen aangewys is;

• Beviano Swiegelaar van die Oudts-hoorn Vaardigheidskool wat as LSEN-Speler van die Seisoen aangewys is.

• Tyrese Karelse wat as die Hoërskole-speler van die Seisoen aangewys is.

• Union Stars Krieketklub het SWD Krieket se eerste Fair Play Award ontvang. Dié nuwe prys is toegeken op grond van ’n evaluasie deur skeidsregters ten opsigte van respek vir skeids­regters, respek vir teenstanders en respek vir die reëls van die spel. Dié krieketklub se vrouespan het hul liga gewen. Die klub se C-span het die reserwe-liga gewen.

• Lleyton Avontuur van Langenhoven Gimnasium wat toekennings ontvang het vir die meeste lopies (296) aangeteken en die meeste paaltjies (15) geneem in die o.19 T20-­skolereeks. Lleyton het ook die toekenning vir die meeste paaltjies geneem in die o19 Superliga ontvang.

• Francois-André Beets, ook van Langenhoven Gimnasium, wat die toekenning ontvang het vir die meeste lopies in die o19 Superliga. Hy het altesame 417 lopies op die telbord geplaas.

• Jané Winster van Union Stars, wat die prys ontvang het vir die meeste paaltjies geneem in die Vroue 50-boulbeurtliga.

• Pieter Stuurman, ook van Union Stars, wat die meeste lopies in die SWD Premierliga aangeteken het. (Deur Stefan Skapie Goosen)