Grottepad-botsing: Fietsryer geïdentifiseer

Die plek waar die Toyota Rav die pad na die botsing verlaat het voordat dit weer by die gebou sowat 200 m verder terug deur die heining is en langs die pad tot stilstand gekom het. Foto: Liesel le Roux

DIE fietsryer wat vanoggend op die Kango Grotte-pad buite Oudtshoorn gesterf het nadat hy deur ‘n Totota Rav getref is, is geïdentifiseer as Francois Bruintjies (73) van Buffelsdrift, die omgewing waar die botsing plaasgevind het. Bedroefde familie van Bruintjies was op die botsingstoneel.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het getuies op die toneel aangedui dat Bruintjies omstreeks 10:10 met sy fiets van ‘n sypad af teen ‘n afdraand in die Kango Grotte-pad ingery het. ‘n Eerste voertuig het hom rakelings gemis waarna hy voor die Toyota Rav ingery het. Die 73-jarige bestuurder van die Rav was van Oudtshoorn op pad na Schoemanshoek.

Die Rav het eers sowat 200 m verder tot stilstand gekom.

Te oordeel aan die ongelukstoneel het die Rav die pad verlaat en deur ‘n draadheining gebars na die botsing met die fiets, en later weer deur die heining terug na die pad gebreek en langs die pad tot stilstand gekom. Dit wil voorkom of Bruintjies met die impak van die botsing teen die voorruit beland het. Sy liggaam het op die ongelukstoneel langs die Rav onder ‘n laken gelê.

Van sy bedroefde familielede was op die ongelukstoneel.

Die bestuurder van die voertuig, ‘n 73-jarige vrou van Oudtshoorn, is in die hospitaal opgeneem.

Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag. (Berig: Liesel le Roux)

491491259 comments133 sharesLikeCommentShare