Twee van die 17 botsings van die voorafgaande week op Oudtshoorn het Maandag in ligte reënweer plaasgevind. Links is ’n Volkswagen Golf en munisipale Chevrolet-bakkie wat gebots het toe die Golf na bewering voor die bakkie vanuit Langenhovenweg in Bloemstraat ingedraai het, en regs is ’n Datsun Clio wat in die veld langs die Kango Grotte-pad beland het toe die bestuurder na bewering beheer oor die voertuig verloor het. Foto’s: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DAAR is weekliks gemiddeld 17 botsings in Oudtshoorn, soos daar ook die week van Maandag 15 April tot Maandag 22 April was.
Hierdie syfers is deur Die Hoorn bekom nadat ons botsingsverslae onder oë gehad het.
Uit die 17 botsings die voorafgaande week word sover net een klag van roekelose bestuur ondersoek. Die meeste van die ongelukke het in die dorp plaasgevind.
Van die botsings het op die dorp se reeds berugte kruisings plaasgevind, soos die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat waar een botsing was, en ’n botsing die afgelope Maandag in reënweer op die kruising van Langenhovenweg en Bloemstraat.
Die botsing het na bewering plaasgevind toe ’n wit Volkswagen Golf vanuit Langenhovenweg regs in Bloemstraat ingedraai het in Wesbank se rigting, en in die proses met ’n munisiale Chevrolet-bakkie wat van voor af gekom het, gebots het. Die Golf was op pad uit die dorp se rigting en die bakkie op pad uit die rigting van George.
Beide motors het net voor ’n grys Audi tot stilstand gekom wat by die stopteken in Bloemstraat gewag het.
Die bestuurder van die Golf is vir ’n sny aan haar voorkop behandel. Sy het aan Die Hoorn vertel dat die geweld van die botsing haar tot in die bestuurdersitplek gegooi het.
Sy en vier insittendes van die bakkie is almal hospitaal toe geneem.
Die bestuurder en ’n vroulike insittende van die bakkie is na verneem word, die ergste beseer.
Die bestuurder was gister steeds in die hospitaal omdat hy gekla het van pyn in die bors.
Die vrou is na verneem word Dinsdag na die George Hospitaal oorgeplaas waar sy gister ’n kopskandering sou ondergaan om die omvang van haar beserings te bepaal.
Die munisipaliteit, polisie en hospitaal wou nie die insittendes van die bakkie se name aan Die Hoorn verstrek nie.
In nog ’n voorval in Maandag se reënweer het ’n Datsun Go sowat 3 km buite Oudtshoorn op die Kango Grotte-pad deur ’n heining langs die pad gebars en gerol nadat die bestuurder na bewering beheer oor die voertuig verloor het. Die motor het in die proses ’n ou Telkom-paal langs die pad gebreek en in ’n veld met beeste tot stilstand gekom.
Dié voorval het omstreeks 12:00 sowat 3 km buite Oudtshoorn plaasgevind.
Die bestuurder het op die toneel gekla van kopseer, maar wou nie hospitaal toe gaan nie.
• 14 motors, bakkies en minibus-taxi’s is Sondag tydens ’n padblokkade in Voortrekkerweg op Oudtshoorn van die pad verwyder, sê Gerhard Bekker, hoof van provinsiale verkeer op Oudtshoorn.
Volgens Becker het twee padblokkades die naweek, die een op Sondag met ’n mobiele toetsstasie vanaf
Kaapstad en ’n tweede een Maandag op die Calitzdorppad, daartoe bygedra dat reisigers veilig hul bestemmings bereik het.
“Die motoriste was oor die algemeen baie hoflik, ordelik en rustig,” het Bekker aan Die Hoorn gesê.
Niemand is vir dronkbestuur in hegtenis geneem nie.
Volgens hom was paaie Maandag die besigste die langnaweek, maar stiller as vorige jare. Hy sê dit het hom opgeval dat daar die Paasnaweek aansienlik minder Gauteng-motors was as vroeër jare.