Galery vir Klein Karoo-kunstenaars en kunsliefhebbers

Janet Dixon en Hanco Blignaut tydens die opening van die galery verlede Donderdag. Foto: Hannes Visser

Vir kunstenaars en kunsliefhebbers van die klein Karoo is daar ’n splinternuwe kunsgalery waar werke uitgestal en besigtig kan word. Die kunstenaars, Janet Dixon en Hanco (Hans) Blignaut het verlede week die nuwe galery by Karoo Antiques by Baron van Reedestraat 43 geopen.

Die uitstalruimte is reeds tydens die afgelope KKNK gebruik vir werke van Blignaut en ander kunstenaars en daar is toe besluit om die galery as ’n permanente uitstalruimte te behou. Die amptelike opening het Donderdagaand 15 Mei plaasgevind waartydens talle inwoners en kunsliefhebers die uitstalling bygewoon het.

Volgens Blignaut sal sy werke en dié van Dixon permanent in die galery wees terwyl die werke van ander kunstenaars afgewissel sal word. Daar is tans werke van tien kunstenaars buiten Blignaut en Dixon op uitstalling. Die galery sal weeksdae vanaf 09:00 tot 16:00 oop wees en ook vir korter tye oor naweke.

Janet Dixon het gesê sy is opgewonde dat Oudtshoorn uiteindelik weer ’n kunskern in die dorp het en nooi mense uit om dit te besoek. (HANNES VISSER)