Borgtog is verlede week in die Oudtshoorn-distrikshof geweier aan die 23-jarige Calvin Jordaan van Rosebank wat weer van aanranding om ernstig te beseer aangekla word, terwyl hy nog drie soorgelyke hangende sake teen hom het.
Hy het na bewering vroeër die maand sy voormalige meisie met die kop gestamp en met klippe gegooi.
Die ondersoekbeampte, ao Piet Hendricks, en die staatsaanklaer, Leandrie Visagie, het borgtog teengestaan omdat Jordaan ’n geneigdheid toon om gesinsgeweld te pleeg en nie interdikvoorwaardes nakom nie. Die hangende sake teen hom spruit uit voorvalle in November en Desember 2024 en Januarie vanjaar.
Landdros Ryan van Harte het bevind dat Jordaan ’n gevaar vir die gemeenskap inhou en waarskynlik weer by misdaad betrokke sal raak indien hy vrygelaat word. (GARNETT WICOMB)