
Die raad van trustees van die CP Nel-museum het Sondag, 17 Mei, ’n oggendtee aangebied by Le Roux Dorpshuis om mense wat die afgelope aantal maande met die museum se herstelproses gehelp het, te bedank.
Herman Labuschagne het aan die gaste verduidelik in watter haglike toestand die museum die afgelope vyf jaar verval het. Hy het genoem dat daar van bykans R4 miljoen wat in 2019 in die museum se rekening was, niks oorgebly het toe die vorige bestuur tot ’n einde gekom het nie.
“Ons het begin met geen geld nie en met skuld van meer as R400 000,” het hy gesê. Die doel van die funksie was egter nie om terug te gaan en die probleme uit te lig nie, het hy verduidelik, maar om dank te betuig aan mense wat sedert verlede jaar geweldig baie gedoen het.
“Iemand het vir my gesê Oudtshoorn se mense kan moeilik wees, maar as daar iets gedoen moet word, staan hulle saam. En dit is werklik so. Ek kan nie verduidelik hoe goedgesind mense die museum is en hoe hulle ingespring het om te help nie,” het hy gesê.
Die oggendtee was tweeledig. Aan die een kant was dit om almal te bedank, maar aan die ander kant was dit ook ’n geleentheid om die O’Flynn’s-gebou agter die Le Roux-huis bekend te stel.
Die gebou wat uit die 1800’s dateer was al gebruik as ’n smidswinkel, as werksplek vir ’n kleremaker wat trourokke met volstruisvere gemaak het as waenhuis en as stoorplek.
Blackie Badenhorst, wat tans as vrywilliger die kurator van die Dorpshuis is, het die gebou onder hande geneem en ingerig met meubels uit die erflating van familie van NA Smit en die Le Roux’s.
“Hierdie is nou die ideale venue vir geleenthede met klein groepe, soos vanoggend se tee,” het Labuschagne gesê. “Ons wil graag die gebou gebruik as uitstalruimte, maar ook om fondse vir die instandhouding van die museum te verdien,” het hy verduidelik. Mense wat belangstel om die gebou as venue te gebruik kan met Blackie by die Dorpshuis of met Taryn by die CP Nel-museum kontak maak.
Daar word byvoorbeeld reeds op 14 Junie ’n poësiewerksoggend by O’Flyns’s beplan. Vir navrae hieroor, skakel Hannes by 083 467 1522. (HANNES VISSER)