Covid-19-sifting: Duisende in Groter Oudtshoorn besoek

GEMEENSKAPSIFTING en toetsing vir die koronavirus het Maandag in die Gro­ter Oudtshoorn afgeskop.

Die sifting en toetsing deur gemeenskapgesondheidswerkers van die Depar­tement Gesondheid vind die week in Die Lane in Bridgton en in dele van Dysselsdorp en De Rust plaas. Van Maandag tot Woensdag is 1 318 mense van deur tot deur (tussen 8ste Laan en 23ste Laan in Bridgton en Blokke D en E in Dysseldorp) besoek en gesif. Slegs een persoon is vir toetsing verwys.

Die gesondheidswerkers besoek inwo­ners van huis tot huis. Hulle opdrag is om mense vir toetsing te verwys indien die siftingsproses sou wys dit is nodig.

Elkeen het ’n inligtingspak met pamflette wat uitgedeel word met onder meer inligting oor die belangrikheid van die dra van maskers daarin. Elke werker het ook sy eie pen, knyp­bord en handreiniger wat nie gedeel word nie.

Die personeel werk in groepe van vier, met twee mense van elke groep aan elke kant van die straat.

Elkeen het ’n fluitjie waarmee kollegas ontbied kan word indien enige noodsituasie sou ontstaan.

• Die Groter Oudtshoorn Gesamentlike Operasiesentrum het Donderdag (14 Mei 2020) in ‘n verklaring daarop gewys dat daar steeds slegs drie bevestigde Covid-19-gevalle op Oudtshoorn is. Gerugte dat daar twee positiewe gevalle in Dysseldorp is (mense wat by ASLA Construction werk) is vals en het klaarblyklik ontstaan toe twee werkers wat ouer as 60 jaar is, van die werk verskoon is.

Teen Maandag was al meer as 18 000 mense elders in die Tuinroete-distrik, waaronder die Groter Oudtshoorn en Kannaland val, gesif met 75 wat verwys is vir toetsing. Die gemeenskap-siftingsprogram het op 6 April begin.

Dr Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse minister van Gesondheid, sê gemeenskapsifting en -toetsing word gedoen om kwes­bare gemeenskappe teen die virus te beskerm deur soveel moontlik mense te vind wat hulp nodig het. “Met hoe meer mense ons spanne kan praat (sifting), hoe groter is ons kans om die verspreiding van die virus te stop. Vrae gaan hoofsaaklik daaroor of mense simptome het soos ’n seer keel, hoes of koors.”

Die minister het inwoners versoek om die gesondheidswerkers vriendelik te ontvang en hul vrae eerlik te beantwoord. (Deur Liesel le Roux en Angelique Erasmus)