COVID-19: Almal het nou toegang tot opgedateerde statistiek in Wes-Kaap

Die nuwe "dashboard" van die Wes-Kaapse regering wat nou vir almal beskikbaar is.

ALMAL het nou toegang tot die nuutste syfers oor COVID-19 in die Wes-Kaap nadat die provinsie ‘n “live dashboard” met statistiek op hul webtuiste www.westerncape.gov.za/coronavirus geplaas het. Die data sal voortdurend opgedateer word om die nuutste syfers te weerspieël.

Die “dashboard” bevat ook inligting oor die aantal toetse gedoen en dui aan hoeveel gevalle daar in elke distrik is.

Daar is volgens die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, reeds begin met ‘n proses om data vir die “dashboard” gratis te maak sodat almal toegang daartoe kan hê.

“Ons maak die statistiek beskikbaar omdat ons glo inwoners moet bemagtig word met die korrekte inligting om hulleself en hul families te beskerm. Dié inligting moet egter nooit gebruik om paniek te saai, stigma te skep of inbreuk te maak op mense se privaatheid nie,” sê hy.

Volgens Winde is die provinsie daarop gefokus om elke wat moontlik COVID-19-positief is, te identifiseer en te toets. “Dit help sodat die persoon kan isoleer en al sy of haar kontakte opgespoor kan word. So word die kurwe van positiewe gevalle afgeplat.

“Ons sou bekommerd gewees het as die aantal bevestigde gevalle in die Wes-Kaap nie gestyg het nie, want dit sou beteken dat ons stelsels om die virus te identifiseer nie werk nie.

“Die realiteit is – soos die nasionale regering aangedui het – dat die piek van die virus nog voorlê en nie vermy kan word nie. Die inperking het ons tyd gegun om voor te berei, maar baie, baie mense dwarsoor die land gaan nog geïnfekteer word.

“Ons het 12 510 toetse die afgelope week gedoen, ‘n styging van verlede week se 9 000 toetse. Ons het ook vandeesweek die hoogste aantal toetse vir een dag bereik, naamlik 2 784. Ons het reeds 227 890 mense gesif en 7 886 mense daarna verwys vir toetsing.” (Berig deur Liesel le Roux)